STADSENDING

STADSENDING. Een van die kenmerke van ons tyd is die vinnige proses van verstedeliking. Die meeste mense op aarde leef in stede en groot dorpe. Ongeveer 70% van die inwoners van Afrika* is reeds stedelinge. Tradisioneel was die sending* veral op die platteland gerig en op die geestelike en fisieke behoeftes van plattelanders. Die stede van die wêreld is die laaste groot grens wat die sending moet oorsteek, het die een sendingorganisasie en kerk ná die ander besef. Dit bring vir die sending vanselfsprekende uitdagings en probleme mee. Die problematiek van die stadsmens – naas welvaart ook armoede, werkloosheid, arbeidsprobleme, vereensaming, siekte, swak behuising, botsende lewensbeskouings (aan die een kant die totale sekularisering* van die lewe by baie, en aan die ander kant die teruggryp na ou tradisies en godsdienstige gebruike by sommige), verbrokkelende gesinslewe, morele verval – het meteens (en opnuut) met geweld op die kerk* en die sending se agenda beland. Uit die aard van die saak bied die stad vir die kerk en die sending ontsaglike moontlikhede om meer mense as ooit tevore te bereik én om die evangelie* op maniere te verkondig waarvan in die verlede slegs gedroom kon word.

Vir verdere lees: DJ Louw 1980. Die stad in die mens: Oor kerk-wees vandag. Pretoria; NGKB.

 

Sidebar