STALIN, JOSEF VISSARIONOWITSJ

STALIN, JOSEF VISSARIONOWITSJ (1879–1953) se oorspronklike familienaam was Djugashvili maar is later na Stalin (staal) verander om by sy openbare beeld aan te pas. Hy is in Georgië gebore en sou aanvanklik ’n priester*1 word, maar met sy blootstelling aan rewolusionêre idees in sy studietyd by die teologiese seminarium, is hy in 1899 geskors. Hierna het hy die Russiese rewolusie met dieselfde passie bevorder as sy vroeëre Christelike geloof*.

Weens sy rewolusionêre aktiwiteite is Stalin twee keer deur die tsaristiese bewind na Siberië verban, maar hy het elke keer ontsnap. Hy het heelwat besoeke aan rewolusionêre groepe in Europa gebring en was met die stigting van die Bolsjewistiese Sentrale Komitee in 1912 ’n deskundige op die gebied van nasionale minderhede in die Russiese Ryk. (Bolsjewisme = Russiese kommunisme; ekstremistiese vleuel van die kommunisme* tydens die rewolusie van1917.) Stalin het in 1913 sy sienings verwoord in sy Marxisme en die Nasionaliteitsvraagstuk en word in 1917 ook redakteur van die invloedryke Pravda. Ná die Oktober-Rewolusie is hy as kommissaar vir nasionaliteite in Lenin* se bolsjewistiese regering aangestel. Toe dit in 1923 duidelik word dat Lenin sterwend was, het Stalin met ’n reeks sameswerings begin waardeur hy alle opposisie teen hom uitgeskakel het. Hy is in Desember 1927 verkies tot die invloedrykste posisie in Rusland as sekretaris van die Kommunistiese Party. Hierna het Stalin die internasionale kommunistiese rewolusie begin afsweer met die opbou van sosialisme*. Met sy vyfjaarplanne is die Russiese ekonomie en maatskaplike lewe heeltemal in die hande van die staat en party geplaas. Die opposisie is terselfdertyd wreed vervolg en vroeëre bondgenote en miljoene mense is op klagtes van hoogverraad tereggestel. Baie Christene* het ook onder Stalin se hiel beland. Die Russies-Ortodokse Kerk het egter ’n versigtige en veilige rol gespeel en het die Stalin-bewind oorleef.

In 1936 het Stalin ’n nuwe “demokratiese” grondwet aan die Unie van Sosialistiese Sowjet-republieke ((USSR) – bestaande uit Rusland en ’n aantal kleiner satelliet-state – voorgelê wat die totale beheer van ’n eenpartystaat verseker het. Ná die Tweede Wêreldoorlog* (waarin Stalin aanvanklik ’n bondgenoot van Hitler* was, maar later van die Gealieerdes) het hy stelselmatig die Russiese en kommunistiese magsgreep in Oos-Europa en die Verre Ooste versterk en sodoende in die Koue Oorlog met die VSA en die Weste betrokke geraak.

Stalin se bewind is ná sy dood deur Nikita Chroestsjof* veroordeel as ’n persoonlikheidskultus en sy beeld in die Russiese geskiedenis is sistematies afgetakel.

 

Sidebar