STATEBYBEL

STATEBYBEL. Jan van Riebeeck* en sy gevolg het met hulle aankoms in die Kaap in 1652 waarskynlik nog van die “nuwe vertaling” gepraat as hulle van die Bybel* praat, want die Statenvertaling of Statenbijbel waarmee hulle hier aangekom het, was toe minder as vyftien jaar in gebruik.

Die Sinode van Dordrecht* (1618–1619) het ná ’n debat van sewe dae besluit dat daar ’n nuwe vertaling uit die grondtale van die Bybel in Nederlands gemaak moet word en het die Staten-Generaal (regering) versoek om vir die koste daarvan in te staan (daarom die Statenbijbel). Hierdie versoek is eers in 1626 goedgekeur en toe kon die ses vertalers (Johannes Borgerman, Willem Baudatius en Gerson Bucerus vir die Ou Testament*, en Jakobus Rolandus, Herman Faukelius en Petrus Cornelisz vir die Nuwe Testament* en die Apokriewe*) aan die werk spring. Die vertaling was in 1635 gereed en twee jaar later het die Staten-Generaal die vertaling goedgekeur en is die Bybel gedruk. Die vertaling van die Ou Testament is op die Masoretiese* teks gebaseer en die Nuwe Testament op die teks wat Erasmus* uit die beste bronne van daardie tyd saamgestel het, die sg textus receptus (of oorgelewerde teks). Benewens die vertaling is daar ook in opdrag van die sinode ’n verklaring van die Bybelteks en motiverings vir bepaalde vertalingskeuses bygevoeg.

Hierdie Statebybel is die Bybelvertaling wat tot in 1933 in ons land en kerke gebruik is en het, afgesien van die die geestelik-godsdienstige betekenis daarvan vir die mense wat aan die hand van die Statebybel die Here* leer ken het, ’n groot invloed op ons taalontwikkeling, spreekwoorde en idiome gehad.

 

Sidebar