STATISTIEK

STATISTIEK. In die vroegste indeling van die teologiese* wetenskap was daar ’n afdeling “statistiek” vir daardie deel waar die Christelike kerk* oor die wêreld beskryf word. ’n Belangrike element van hierdie beskrywing sou die getalle wees. Mettertyd het die woord statistiek egter slegs aan hierdie numeriese aspek gekoppel geraak.

Een van die grondleggers van die moderne sending*beweging, William Carey*, het in sy 1792-boek, An Enquiry into the Obligations of Christians to Use Means for the Conversion of the Heathen, baie van statistiek gebruik gemaak. Hy wou aantoon dat die grootste deel van die wêreldbevolking nog nie met die evangelie* bereik was nie, en statistiese gegewens het hom daarmee gehelp.

In die 20ste eeu het hierdie saak weer sterk na vore gekom, veral as gevolg van die Church Growth-beweging. Numeriese groei van kerke is sterk beklemtoon, want, so is gesê, dit gee ’n aanduiding van hoe dit gaan met die kerke, en of hulle daarin slaag om hulle omgewing effektief met die evangelie* te bereik. Church Growth se fokus op die lande en volke in die wêreld wat die minste bereik is, het ook die statistiese werk gestimuleer. Van die belangrikste publikasies in hierdie verband is die massale World Christian Encyclopedia wat berus op navorsing deur David Barrett en medewerkers. ’n Ander standaardwerk is Operation World van Jason Mandryk en medewerkers, waarvan die totaal hersiene 7de uitgawe in 2010 verskyn het. Laasgenoemde boek keer deur analise en statistiek terug na die oorspronklike bedoeling om vas te stel wat die stand van die Christendom* en die ander godsdienste is sodat dit as hulpmiddel vir voorbidding en aksie kan dien.

Die volgende twee tabelle is hoofsaaklik saamgestel uit Operation World van 2010.

 

Tabel 1: Die relatiewe grootte van die wêreldgodsdienste (2000/2010) per kontinent

 

KONTINENT

CHRISTELIK

 

%

MOESLIEM

 

%

NIE-

REL

 %

HINDOE

 

%

BOEDDHISTIES/

CHIN

%

TRAD

 

%

ANDER

 

%

TOTAAL

 

N

Afrika

48,4 41,3 1,2 0,2 8,7 0,2 1 001 m
Asië 8,6 24,7 19,2 22,1 21,1 2,4 2,0 3 700 m
Europa 71,1 5,1 22,8 0,1 0,3 0,6 720 m
Latyns-Amerika 91,7 0,3 4,3 0,1 0,2 2,7 0,7 520 m
Noord-Amerika 81,6 1,7 12,0 0,5 1,0 0,4 2.3 315 m
Oseanië 73,3 1,2 22,6 1,3 1,3 0,7 0,6 32 m

WÊRELD %

 N = ’000

32,5

2083

21,1

1389

15,5

963

13,5

820

12,9

783

2,9

161

1,6

89

100%

6 288 m

 

Hieruit blyk dat nagenoeg een derde van die wêreldbevolking hulleself as Christene* beskou en ’n bietjie meer as een vyfde as Moesliems*. Afrika, waarvan die bevolking redelik onlangs die miljard-merk oorskry het, is grootliks ’n twee-godsdiens-kontinent. In Asië verskil die Moesliems, Hindoes*, Boeddhiste*/Chinese en die nie-godsdienstige groepe nie baie van mekaar in grootte nie. Die Moesliems oorheers die Midde-Ooste, terwyl die Hindoes sterk verteenwoordig is in Suid-Asië, en nie juis in die Verre-Ooste nie. Die ander kontinente is grootliks nomineel Christelik, veral die Amerikas. Die nie-godsdienstige groep is veral sterk in die (eertydse) kommunistiese* Oos-Europa en Asië, maar groeiend in die meer gesekulariseerde Europa, Noord-Amerika en Australië.

Dit is interessant om te let op die verspreiding van die Christene in Tabel 2 hieronder. Vir die eerste keer in die geskiedenis is daar ’n godsdiens – die Christendom* – wat sterk teenwoordig is in omtrent al die wêrelddele. Dit is veral belangrik om te besef dat slegs sowat 40% van Christene in die twee tradisionele Christelike kontinente, Europa en Noord-Amerika, woonagtig is. Latyns-Amerika is die mees “Christelike” kontinent, met meer as 90% van sy inwoners (nomineel) Christene. Die Katolieke Kerk* is die tuiste van nagenoeg die helfte van alle Christene, feitlik twee en ’n half keer soveel as die Protestante*.

 

Tabel 2: Christelike groeperings in miljoene per kontinent (2000/2010)

 

KONTINENT

ANGL KAT ONAFH ORTOD PROT RAND RES TOTAAL

Afrika

32 118 78 47 99 4 11 379
Asië 1 96 126 11 68 12 4 317
Europa 29 242 7 146 67 5 27 519
Latyns-Amer. 1 410 24 1 37 9 477
Noord-Amerika 3 71 68 6 72 11 28 259
Oseanië 5 8 1 1 7 1 1 23
WÊRELD %

 N = ’000

3,4

68

47,8

943

15,4

303

10,7

211

17,7

349

2,1

41

2,7

53

100

1973

 

(JH van Wyk wys in ’n voetnoot in sy boek Teologie van die Koninkryk [Vanwyk, 2015, bl 241] op die “situasie van kerklike verdeeldheid” in die wêreld in die lig van 1998-gegewens wat hy noem: Nestoriane, 25 miljoen; Kopties, 8 miljoen; Oosters-Ortodoks, 224 miljoen; [Rooms] Katoliek, 1000 miljoen; Luthers, 65 miljoen; Gereformeerd, 50 miljoen; Anglikaans, 60 miljoen; Baptiste, 35 miljoen; Metodiste, 50 miljoen; Pentekostaliste, 461 miljoen. Van Wyk wys daarop dat die REC News Exchange in Februarie 2000 berig het dat “there are 33 800 denominations around the world, and people form a new one nearly every day”.)

Om nader tuis te kom, bevat Statistieke Suid-Afrika se General Household Survey gegewens oor die stand van sake in Suid-Afrika in 2013. Daarvolgens het 85,6% van Suid-Afrikaners in 2013 gesê dat hulle Christene is en 5% dat hulle voorvaderverering en verwante tradisionele Afrika-godsdiensgebruike aanhang. Twee persent van die bevolking sien hulleself as Moesliems, en 5,6% het geen spesifieke godsdienstige voorkeure nie. Net 0,2% van die bevolking is Jode.

Volgens die 2013-opname het die Noord-Kaap die grootste konsentrasie van Christene (98,2%), gevolg deur die Vrystaat met 96,9%. KwaZulu-Natal het die laagste persentasie (77,6), met Limpopo die tweede laagste (78,8%). Nie een van die ander provinsies het minder as 80% bewoners wat sê dat hulle Christene is nie.

In Tabel 3, saamgestel uit die South African Christian Handbook 20052006, kan gekyk word na die godsdienstige situasie in Suid-Afrika volgens die sensusgegewens wat tóé beskikbaar was. Daarvolgens het 79,9% van die bevolking in daardie stadium gesê dat hulle Christene is – persentasiegewys heelwat minder as in 2013. Die Afrika-Onafhanklike kerke* het ’n baie sterk posisie onder die swartes beklee, die gereformeerde* kerke onder die blankes, en die Hindoeïsme* onder die Indiërs.

 

 

Tabel 3: Godsdienstige groeperings in Suid-Afrika, 2004

 

KERK/GODSD. SWART

%

BLANK

%

KLEURL.

%

ASIËRS

%

TOTAAL

N = ‘000

TOT.

%

Afr Onafh. Kerke 38,0 7,4 19,8 2,6 14 599 32,7
Metodiste 7,9 8,0 4,1 0,3 3 305 7,4
Gereformeerde 3,3 37,1 12,1 0,2 3 232 7,2
Katolieke 7,1 6,6 8,8 1,9 3 181 7,1
Pinkster/Charism 5,2 7,4 10,2 6,1 2 626 5,9
Anglikane 3,1 5,8 9,0 0,5 1 722 3,8
Lutherane 2,8 0,6 3,0 0,1 1 131 2,5
Presbiteriane 2,1 1,7 0,3 0,1 832 1,9
Kongregasionaliste 1,0 0,3 4,0 0,1 509 1,1

Ander

8,8 10,2 14,6 12,3 4 276 9,5

Totaal Christene

79,9 86,8 86,8 24,4 35 760 79,8

Moesliems

0,2 0,2 7,4 24,6 654 1,5

Hindoes

0,1 0,1 47,3 552 1,2

Ander/geen/weier

19,8 12,8 5,6 3,7 7 854 17,5

TOTAAL ’000

35 416 4 295 3 995 1 115 44 820 100
% 79,0 9,6 8,9 2,5 100  

 

Natuurlik moet al hierdie syfers met omsigtigheid hanteer word. Al sou dit die korrekte sensussyfers wees, is daar dikwels eksterne redes waarom mense hulleself opgee as aanhangers van ’n godsdiens (of ’n kerk). Dit moet alles in die analisering van die syfers in ag geneem word. Sulke syfers is wel belangrik as ’n aanduiding van relatiewe orde-groottes asook tendense oor tyd.

Vir verdere lees: P Jenkins 2002. The Next Christendom: The Coming of Global Christianity. New York: Oxford University Press. Jason Mandryk (red) 2010. Operation World. Colorado Springs: Biblica Publishing.

 

Sidebar