STEENKAMP, JOHANNES ANDRIES JACOBUS (ANDRIES)

STEENKAMP, JOHANNES ANDRIES JACOBUS (ANDRIES) (1907–1972) het in 1931 sy teologiese studie aan die Sendinginstituut* op Wellington voltooi. Hy het later ook BEcon en MTh verwerf. Hy het sy bediening* as hulpleraar van Keimoes en Kanoneiland begin en was agtien maande aan die Bethesda-normaalskool naby Pietersburg verbonde. Hy was vanaf 1935 leraar* van die sending*gemeentes Seleka, Machadodorp, Ermelo, Upington, Port Elizabeth en Paarl (Sionskerk).

Steenkamp het in breër verband in 1961 sekretaris van die Skiereilandse Sendingraad geword toe hy gemeentelik by Bonteheuwel ingeskakel was. Hy het jare lank in die moderatuur* van die destydse NG Sendingkerk* gedien en was vir agtien jaar, tot met sy dood, moderator* van dié kerk se sinode*. As moderator het Steenkamp as beginselvaste en sterk leier en as kampvegter vir die bruinmense, by geleentheid swaarde gekruis met die destydse premier, dr HF Verwoerd*. Sy broer, ds JH Steenkamp, was in dieselfde tyd moderator van die kerk se sinode in die destydse Suidwes-Afrika (tans Namibië).

 

Sidebar