STEENKAMP, WILLEM PETRUS

STEENKAMP, WILLEM PETRUS (1879–1956) is in die Calvinia-distrik gebore. Hy het arm grootgeword en was lewenslank ’n kampvegter teen armoede*. Ná sy teologiese studie aan die Universiteit van Stellenbosch het hy sy doktorsgraad in 1910 aan die Vrije Universiteit* in Amsterdam behaal oor die agnostisisme* van Herbert Spencer. Dit was die eerste proefskrif ooit in Afrikaans*.

Terug in Suid-Afrika, was Steenkamp ’n jaar lank in die Johannesburgse Fort aangehou omdat hy van sameswering tydens die Rebellie* verdink is. Hy het in Januarie 1919 diens aanvaar in die Namakwaland-gemeente waar al sy kerklike werksaamhede en politieke betrokkenheid van hom ’n legendariese figuur gemaak het. Hy het spoedig genoeg fondse ingesamel om die indrukwekkende klipkerk op Springbok op te rig. Hy was verantwoordelik vir of behulpsaam met die oprigting van verskeie ander kerkgeboue en fondsinsamelingpogings – onder meer vir die Volkshospitaal in Kaapstad.

Nadat hy uit die bediening getree het, het Steenkamp saam met sy seun medies in die VSA en Nederland studeer, en hulle het gelyktydig hulle studie voltooi. Steenkamp het hom ook in die evolusieteorie* geïntereseer en ’n ongepubliseerde manuskrip, The Instinct of Animals and Evolution, daaroor geskryf.

Hy het reeds op ’n vroeë ouderdom by die partypolitiek betrokke geraak. Hy is in 1929 as onafhanklike Volksraadslid vir Namakwaland verkies. In 1939 kon hy nie vir genl Hertzog* steun in sy standpunt om ’n “gewapende neutraliteit” in die naderende Tweede Wêreldoorlog* te handhaaf nie. Dit het die einde van ’n jarelange vriendskap beteken. Steenkamp het later as senator van die Verenigde Party gedien. In dié tyd het hy sy outobiografie voltooi: I Conclude: Convictions and Experiences of a Free-thinking Doctor and Hunter (1947).

 

Sidebar