STEFANUS

STEFANUS was een van die sewe mans wat gekies is om die Grieks*sprekende Joodse* Christene* se weduwees in Jerusalem* te versorg (Hand 6:5). Hierdie groep kla dat hulle afgeskeep word in die daaglikse versorging. Deur die Here* se genade het Stefanus ’n kragtige bediening* gehad, wat ook wonders* en tekens ingesluit het.

Lede van die sg Sinagoge* van die vrygelate slawe* het toe saam met Jode wat van die provinsies Silisië* en Asië* gekom het, met Stefanus swaarde gekruis, waarskynlik oor sy ruimer siening van aanbidding en Christelike interpretasie van die wet* van Moses*. Hulle was egter nie opgewasse teen sy argumente nie, en het mense omgekoop om hom valslik by die Sanhedrin* te beskuldig dat hy die tempel*3 en die wet van Moses beledig.

Hy neem self sy verdediging waar (Hand 7), waarin hy betoog dat God nog nooit aan aardse heiligdomme gebonde was nie, en dat die Jode nog altyd God se wet verwerp het deur sy profete* te vermoor. Hierop het die Jode hom gestenig*, waarna hy deur godvresende mans begrawe is. So word Stefanus die eerste Christen-martelaar*. Paulus* was as jongman ook hier teenwoordig; hy het die stenigers se klere opgepas. Hierna het ’n grootskaalse vervolging van Christene losgebreek.

 

Sidebar