STEGMANN, ANTONIE CHRISTOFFEL (ANTON)

STEGMANN, ANTONIE CHRISTOFFEL (ANTON) (1883–1972) is op Cradock gebore en het in Malmesbury skoolgegaan. Hy het op Stellenbosch sy teologiese studie gedoen. In daardie tyd het hy ook vir Westelike Provinsie rugby gespeel. Hy is in 1906 vir die eerste Springbokspan, met Paul Roos as kaptein, gekies wat na die Britse Eilande getoer het. Stegmann het as linkervleuel teen Skotland en teen Ierland gespeel en in die laaste wedstryd ook ’n drie vir die Springbokke gedruk.

Stegmann het in 1915 predikant* van Port Elizabeth geword nadat hy ’n jaar lank hulpprediker van Worcester was. Daarna het hy Koringberg (1924), Woodstock (1928) en Burgersdorp (1931) bedien. In 1941 is hy aangestel as Sondagskool*sekretaris, ’n pos wat hy tot in 1954 beklee het. Hy was verantwoordelik vir Sondagskoolwerk in Transvaal, Natal en Midde-Afrika. Die redaksie van die kinderblad Die Môrelig was ook in sy hande en jare lank was hy vir duisende kinders die gewilde “Oom Anton” aan wie hulle briefies geskryf het wat in Die Môrelig geplaas is.

 

Sidebar