STEGMANN, GEORG WILHELM

STEGMANN, GEORG WILHELM (1814–1890) het uit ’n Duitse Kaapse familie gestam. Hy ontvang sy teologiese opleiding te Aberdeen in Skotland en aan die Lutherse* seminarium, Amsterdam. Ná sy ordening as predikant* in 1835, word hy in 1836 die tweede leraar* van die Lutherse Kerk in Strandstraat, Kaapstad. Hy word hier ’n omstrede figuur vanweë sy gereformeerde* doop*beskouing, sy streng morele opvattings en die feit dat hy vanaf 1838 saam met die plaaslike Presbiteriaanse* predikant dienste begin hou het vir pas vrygestelde slawe. Dit lei tot die aankoop van die ontruimde teater op Riebeeckplein as kerkgebou. (Kyk by: St Stephen’s.)

Stegmann het in 1847 uit die diens van die Lutherse gemeente getree en was hierna leraar van twee gemeentes gelyktydig: die St Stephen’s-gemeente in die ou teater en die St Martini-gemeente wat hy saam met sy ondersteuners gestig het. Die Lutherse kerkgebou in Langstraat is in 1853 vir lg doel opgerig. Die sinode* van die NG Kerk* het hom in 1857 gelegitimeer (Kyk by: Legitimasie) waarna hy formeel die predikant van die St Stephen’s-gemeente, ’n NG gemeente veral vir vrygestelde slawe, geword het. In 1859 aanvaar Stegmann ’n beroep na Adelaide waar hy tot met sy aftrede in 1890 gewerk het.

Stegmann het talle pamflette geskryf en was as ’n vurige prediker bekend. Hy was ’n swaer van Andrew Murray*1.

 

Sidebar