STER VAN BETLEHEM

STER VAN BETLEHEM. Jesus* is teen die einde van Herodes*1 die Grote (37–4 vC) se regering gebore. Sterrekykers* het “die ster van Betlehem” na Jerusalem* en na Jesus se geboorteplek gevolg. Sommige ondersoekers bring die ster van Betlehem in verband met óf die verskyning van Halley se komeet (12–11 vC), óf ’n konjunksie van die planete Jupiter (die koningster) en Saturnus (die ster van Israel*) wat drie keer in 7 vC in die teken van die vis (beskou as ’n konstellasie van die Jode*) plaasgevind het, óf ’n “supernova” (’n ster wat ontplof) 5 vC, óf die konjunksie van Jupiter en Venus in 3–2 vC. Die laaste moontlikheid is onwaarskynlik, aangesien Jesus reeds vóór 4 vC gebore is. Dit is belangrik dat ’n ster al in Num 24:17 die teken is van die koning* uit Jakob*, en dat volgens Joodse oorlewering Bileam as sterrekyker uit die ooste afkomstig was. Volgens Jes 60:3 kom nasies na die lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat aangebreek het. Jesus word self as die môrester bely (2 Pet 1:19; Op 22:16).

 

Sidebar