STERK EN SWAK

STERK EN SWAK word deur mag* bepaal, wat in die Nuwe Testament* met beide God en die Bose (Kyk by: Kwaad [die Bose]) geïdentifiseer word. Alhoewel die “sterk man” of Satan* nog nie vasgebind kon word nie (Mark 5:4), word God se krag in die Nuwe Testament toenemend deur Jesus* se magtige werke (Hand 2:22) en sy optrede duidelik gemaak (Luk 11:20; Matt 12:28). 1 Kor 1:27 beklemtoon egter hoe God met ander maatstawwe as die konvensionele oordeel, en in die oorspronklike word “sterk” en “swak” in die sin van fisieke mag gebruik: die kerk* is sterk in swakheid. Swak “in die wêreld” sou óf op mense se oordeel, óf op die kerk se historiese situasie kon wys. Die drieledige klem dat God telkens die een is wat uitverkies, téén die norme van die tyd in, gee aanleiding tot lofprysing (1 Kor 1:31). In Paulus* se persoonlike lewe word iets van die kontras tussen sterk en swak ook duidelik: die sterk boodskap kom van God deur middel van die swakheid van Paulus se eie liggaam (2 Kor 10:10; vgl 2 Kor 4:7). Elders word sterk en swak met mense se geloof* en hulle gewetens* in verband gebring (1 Kor 8:7-12; 1 Kor 9:22; Rom 14).

 

Sidebar