STERREKYKERS

STERREKYKERS waarvan die Bybel* praat, kan Persiese* priesters wees, mense met bonatuurlike krag en kennis, of mense wat ander verlei. Hulle sou ook as “towenaars*” verstaan kon word (Hand 8:9; 13:6, 8), maar in Matt 2:1 is “sterrekykers” waarskynlik ’n aanduiding van astroloë wat die sterre bestudeer het vir aanduidings van toekomstige gebeure in die lewe van enkelinge en volke. Hulle het van die oostekant van die Jordaanrivier* af gekom, waarskynlik uit Babilonië* waar destyds nog Jode* gewoon het. Die drie elemente wat in hulle uitspraak in Matt 2:2 voorkom, is: 1.waar is die koning* van die Jode*?; 2. sy ster (Kyk by: Ster van Betlehem); 3. hulle wil aan Hom hulde bewys. Terwyl Jesus* se volksgenote Hom Koning van “Israel*” sou noem, is dit net hier en in die lydensgeskiedenis dat Jesus deur heidene* (nie-Jode) koning van die “Jode” (Matt 27:11, 29, 37) genoem word. Teenoor Herodes*, wat sy koningskap van die Romeine ontvang het (Kyk by: Romeinse Ryk), word hier onderstreep dat Jesus as koning “gebore” is. Dit is eers in die later tradisie dat die sterrekykers as konings met spesifieke name (Kaspar, Melgior en Baltasar) aangedui word. Die fees Epifanie*, Jesus se manifestasie aan die heidene, word soms met die sterrekykers in verband gebring.

Vir verdere lees: AB du Toit (red) 1988. Handleiding by die Nuwe Testament IV. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar