STERREVERERING

STERREVERERING. Naas die son en maan is alle hemelliggame deur die Hebreërs as sterre en as deel van God se skepping beskou (Job 22:12; Ps 8:3-4). In Mesopotamië* is sterre as gode aanbid. In Israel* was dit as afgodediens* verbode omdat sterre deur God geskep is, maar sterreverering het steeds ’n gevaar gebly (Deut 4:19). Amos* veroordeel dit in die Noordryk reeds in die 8ste eeu vC (5:26), en koning Manasse*2 voer sterreverering in Juda in (2 Kon 21:5). Koning Josia* onderdruk die sterreverering (2 Kon 23:4-5).

Deur die beoefening van astrologie* is afleidings uit die beweging van hemelligame gemaak oor die gebeure in mense* en volke se lewe (Jer 10:2). Die astrologie wen meer veld ná Aleksander* die Grote en het selfs die geloof in die gode en orakels verdring. Die kennis van die Babiloniërs* in hierdie verband is in die Hellenistiese tyd (Kyk by: Hellenisme) verdiep en wetenskaplik uitgebou. Hierdie wetenskaplike kennis is met populêre volksvoorstellings verbind wat gelei het tot ’n wye verskeidenheid opvattings en gebruike. Mense het geglo dat hulle aan die kosmiese magte uitgelewer was. Christus* kom bevry ons juis van hierdie “minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls” (Gal 4:9 – Nederlandse Bybelvertaling: “zwakke, armzalige machten”).

Vir verdere lees: AB du Toit (red) 1997. Handleiding by die Nuwe Testament II. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar