STERWE

STERWE. Tradisioneel word gesê dat die siel* en liggaam van ’n persoon by sy sterwe geskei word. Die siel, wat onsterflik sou wees, gaan dan hemel* of hel* toe, terwyl die verganklike liggaam tot niet gaan. Die meeste teoloë stem egter vandag saam dat ons so ’n dualistiese (Kyk by: Dualisme) mensbeskouing as onbybels moet afwys. Daarom is dit ook bedenklik om van “die onsterflike siel” te praat – so asof die siel op sigself onsterflikheid sou besit. Dit is beter, en meer Bybels*, om te sê dat die hele mens, siel en liggaam, by die dood* sterwe. Dit beteken nie dat die mens tot niet gaan nie, maar dat hy/sy in ’n ander dimensie – buite ons bekende tyd en ruimte – voortbestaan.

Wanneer die gelowige sterwe, gaan hy/sy volgens die Bybel* heen om onmiddellik daarna by Christus* te wees (Luk 16:22; 23:43; Fil 1:23). Wanneer Christus weer kom, sal die gelowiges, net soos Hy vantevore, uit die dode opgewek word en tot in ewigheid saam met Hom op die nuwe aarde onder die nuwe hemel leef (Op 21:3). Presies hoe dié sg tussentoestand* – tussen ons sterwe en opstanding – sal wees, is ’n misterie. Gereformeerdes* is egter daarvan oortuig dat dit nie ’n toestand van onbewuste “sieleslaap*” sal wees nie, en dat daar ook nie ’n vaevuur* sal wees nie. Ons sal veilig by die Here* rus.

 

Sidebar