STEYN, MARTHINUS THEUNIS

STEYN, MARTHINUS THEUNIS (1857–1916) het sy regskwalifikasies in Londen behaal en het daarna in Bloemfontein as advokaat gepraktiseer. Hy het vinnig opgang in die Vrystaatse openbare lewe gemaak en is reeds in 1889 as regter aangestel. Steyn se ampstermyn vandat hy in 1896 staatspresident van die Oranje-Vrystaat geword het, is oorheers deur die krisis in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die Anglo-Boereoorlog* (1899–1902). Sy toekomsvisie was die vereniging van alle Afrikaners* onder een republikeinse vlag om die destydse aggressiewe Britse imperialisme te weerstaan. Hy het nietemin geglo dat samewerking tussen gematigde Afrikaans- en Engelssprekendes tot voordeel van Suid-Afrika sou wees.

Tydens die laaste onderhandelings voor dié oorlog tussen Steyn enersyds en pres Kruger* en lord Milner andersyds, het Steyn alles moontlik gedoen om die twee strydende partye te versoen en die oorlog af te weer. Toe die oorlog wel uitbreek, word Steyn op kommando die siel van die onafhanklikheidstryd van die twee Boere-republieke. Hy was later slegs bereid om met die Britse regering oor vrede te onderhandel indien die republieke hulle onafhanklikheid sou behou. Met die uiteindelike vredesonderhandelings in Mei 1902, was Steyn nie teenwoordig nie vanweë ernstige siekte wat hy in die wind en weer op die slagveld opgedoen het. Dit het in ’n stadium verlamming veroorsaak en meegebring dat hy met sy vrou, Tibbie* (die dogter van Colin Fraser*, ’n Skotse predikant*), lank in Europa deurgebring het ter wille van mediese behandeling en rus.

Ná die oorlog neem Steyn leiding in die oprigting van die Vrouemonument in Bloemfontein. Tydens die Nasionale Konvensie (1908–1909) is Steyn die eerste ministerskap van die voorgestelde Unie van Suid-Afrika aangebied, wat hy vanweë sy siektetoestand nie kon aanvaar nie. Hy bly egter tot sy dood ’n gewaardeerde raadgewer en vertroueling van verskeie politieke leiers –ook tydens die Rebellie* van 1914. Sy optrede as geheel het sy innige Christenskap weerspieël. Hy het hierbenewens ’n groot intellek gehad en ten spyte van sy sterk gevoelens oor Afrikanerskap, was hy altyd gematigd. Beide die Steyns is ná hulle dood aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.

Vir verdere lees: NJ van der Merwe 1921 Marthinus Theunis Steyn, ʼn lewensbeskrywing (2 dele). Kaapstad: Nasionale Pers.

 

Sidebar