STEYN, RACHEL ISABELLA (TIBBIE)

STEYN, RACHEL ISABELLA (TIBBIE) (1865–1955) was die dogter van ’n Skotse predikant*, ds Colin Fraser*, maar het haar volkome met die Afrikanervolk (Kyk by: Afrikaners) vereenselwig. Ná haar eggenoot, Marthinus Theunis Steyn*, se verkiesing in 1896 tot staatspresident van die Oranje-Vrystaat, het sy besondere grasie en waardigheid aan haar man se amp verleen. Tydens die Anglo-Boereoorlog* (1899–1902) weier sy om na Europa te vlug en bly selfs op kommando aan haar man se sy totdat sy onder huisarres geplaas is. Steyn het saam met Emily Hobhouse* vir die verbetering van die toestande in die konsentrasiekampe gepleit. Haar lewe ná die oorlog begin in 1907 as voorsitter van die welsynsorganisasie, die Oranje-Vrouevereniging. Haar aandeel in die oprigting van die Vrouemonument in Bloemfontein en haar vereenselwiging met die Afrikaners tydens die Voortrekker-eeufees in 1938, het haar aansien en aanhang vergroot. Vir baie tydgenootlike Afrikaners was sy ná pres Steyn se dood die laaste skakel met hulle heroïese verlede. Sy was lank die onderhoofleidster van die Voortrekkerbeweging. Sy is in dieselfde graf as haar eggenoot aan die voet van die Vrouemonument begrawe.

Vir verdere lees: N Kruger 1949. Rachel Isabella Steyn, presidentsvrou. Kaapstad: Nasionale Pers. 1977. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, Deel 3 Pretoria: RGN.

 

Sidebar