STOFBERG, PIETER BAREND JACOBUS

STOFBERG, PIETER BAREND JACOBUS (1869–1907) het sy teologiese studies aan die Victoria-kollege en die Teologiese Kweekskool* op Stellenbosch voltooi. Daarna word hy in 1895 as eerste predikant* van Boksburg bevestig. Hy word deur die sendingkommissie van die Kaap se sinode* beroep om die sending*werk op Mochudi in die huidige Botswana oor te neem. Hy is voor sy vertrek met Anna Hofmeyr, ’n onderwyseres en verpleegster, getroud. Hy word in 1898 in Mochudi bevestig; sy eggenote is tien maande later oorlede. Ná die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog* word die plaaslike sendelinge* en hulle gesinne deur die Britse magte gearresteer en na Bulawayo gestuur. Stofberg slaag in 1901 daarin om na Europa te gaan om medisyne te studeer. Hy keer in Augustus 1902 na Mochudi terug en vind dat daar intussen vyandige gesindhede tussen die inwoners en Boeremagte gekom het, wat noodwendig sy werk bemoeilik het. In 1907 is ’n ongeneeslike siekte by Stofberg gediagnoseer, en hy is kort daarna in sy suster se huis op Robertson oorlede.Toe ’n teologiese skool ’n jaar later by Pietersburg tot stand gekom het – ’n lank gekoesterde ideaal van Stofberg – is dit na hom genoem: die sg Stofberg-gedenkskole.

 

Sidebar