STOÏSISME

STOÏSISME is die vernaamste filosofiese skool in die Hellenistiese wêreld (Kyk by: Hellenisme) wat sy naam ontleen aan die beskilderde poort (stoa poikile) aan die noordekant van die Ateense mark waar die filosowe versamel het. Belangrike verteenwoordigers van dié skool was: Zeno van Cilium (circa 335–264 vC), Cicero (143–106 vC), Seneca (circa 4 vC–65 nC), Epictetus (50–138 nC) en Marcus Aurelius (121–180 nC).

Zeno voer die gedagte in dat wysheid daarin bestaan om ooreenkomstig die natuur te lewe, eerder as in die nadenke oor ewige vorms soos dit by Plato die geval was. Om ooreenkomstig die natuur te lewe, beteken om ons menslike rede – wat ons verbind met die goddelike rede wat die heelal deurdring – toe te laat om ons lewe te beheers. Sterk klem word gelê op ons morele plig om in ons gedrag aan die universele rede of natuurwet te konformeer. Stoïsisme word daarom met sterk pligsbesef geassosieer.

Die stoïsyne glo dat alles in die heelal gedetermineer is deur die natuurwet. Ons is egter wel vry om bewustelik in te stem met die onvermydelike gang van sake in die heelal, en so innerlike tevredenheid te ervaar. Dit beteken egter dat ons onsself moet inoefen om enigiets wat op ons lewenspad kom (ook siekte en dood) sonder enige gevoelsopwelling te aanvaar.

Vir verdere lees: SJ Grenz 1997. The Moral Quest: Foundations of Christian Ethics. Downers Grove, Illinois: IVP.

 

Sidebar