STRAUSS, DAVID FRIEDRICH

STRAUSS, DAVID FRIEDRICH (1808–1874) het teologie* in Tübingen gestudeer en is beïnvloed deur FC Baur* (sy leermeester), Hegel* en Schleiermacher*. Sy twee volumes oor Jesus* se lewe (1835–1836) skok, en 1835 word beskou as ’n waterskeidingsjaar in die teologie. Hy het gemeen dat sy benadering nie die Christelike geloof* bedreig nie, maar dit het tot sy vervroegde aftrede in 1839 gelei. Hy het teen supernaturaliste* gestry wat alles in die Bybel* net so aanvaar, én teen rasionaliste* wat alles wil verklaar. Sy oplossing is dat die Nuwe Testament* in ’n “mitiese wêreld” ontstaan het, maar hy het nooit “mite” (mitologie*) presies gedefinieer nie. Wanneer die Nuwe Testament mitologies oor Jesus praat, meen Strauss, sluit die skrywers aan by die Ou-Testamentiese* spreekwyse en die dissipels* se oortuiging dat Jesus die Messias* was. Strauss handhaaf dat Jesus uniek en nie “gewoon” was nie. Hy meen dat sy benadering die Christelike geloof kan red, mits dit nie op die historiese Jesus rus nie, maar op die mitologiese Christus.

Wanneer feitlik alles in die Evangelies* egter as mites verklaar word, kan ’n lewe van Jesus nie geskryf word nie. Wat ons in die Evangelies het, is vir Strauss soos pêrels waarvan die string gebreek het, en ons weet nie hoe dit ingeryg was nie. Tog ontken hy nie ’n historiese basis vir die Evangelies nie. Hy wys die verskille tussen Johannes* en die Sinoptiese Evangelies* uit en meen dat Johannes nie vir die rekonstruksie van Jesus se lewe gebruik kan word nie.

In later geskrifte het Strauss na ateïsme* en Darwinisme* beweeg en was blykbaar die eerste teoloog wat dit gedoen het. In 1873 verwerp hy die benaming “Christen”, en sterf as ’n verbitterde mens.

 

Sidebar