SUID-AFRIKAANSE RAAD VAN KERKE (SARK)

SUID-AFRIKAANSE RAAD VAN KERKE (SARK) is die mees verteenwoordigende ekumeniese* organisasie in Suid-Afrika en die meeste hoofstroom-kerke in die land tel onder sy lede. Die wortels van die SARK gaan terug na 1904 toe ’n Algemene Sendingraad vir SuidAfrika gestig is. Dertig jaar later is die Sendingraad uitgebou tot ’n meer verteenwoordigende Christenraad van SuidAfrika, waaraan die destydse NG Kerk* van Transvaal en ook die NG Sendingkerk* van Transvaal deelgeneem het. Gedurende die oorlogsjare (1941) het die NG Kerk sy bande met die Christenraad verbreek. In 1968 het die Raad ’n nuwe naam aanvaar, die SuidAfrikaanse Raad van Kerke, en is die agenda uitgebrei om ook aandag aan die politieke, ekonomiese en maatskaplike probleme van die land te gee. Onder leiding van John Rees, Desmond Tutu*, Beyers Naudé* en Frank Chikane*, wat een na die ander as algemene sekretaris opgetree het, het die aktiwiteite van die SARK toegeneem. Die SARK, wat aan die voorpunt van die kerklike verset teen apartheid* gestaan het, het deur verskeie krisisse gegaan. Teenstand van die destydse regering was fel, só fel dat daar nie net regsgedinge teen die SARK aanhangig gemaak is nie, maar dat die hoofkantoor in Johannesburg deur ’n bomontploffing verwoes is.

Ná 1990 het die SARK veral aandag aan die politieke en maatskaplike opbou van die land, asook die versoeningstaak van die kerk*, gewy. Algaande het die SARK finansieel noustrop begin trek, ook omdat buitelandse geldbronne ná die beëindiginge van apartheid nagenoeg opgedroog het. In regeringskringe is die SARK ook nie baie hoog geag nie – veral omdat die SARK meermale standpunt teen die ANC-regering se doen en late ingeneem het. In 1995 het die NG Kerk* ná meer as ’n halfeeu weer sy plek as waarnemer by die SARK ingeneem, en in 2004 is volle lidmaatskap aan dié kerk toegestaan.

 

Sidebar