SWEER

SWEER. Eedswering is ’n godsdienstige handeling en ’n moraliteitsnorm. Daar word in God se Naam gesweer (Deut 6:13; 10:20) en Hy word tot getuie* geroep vir die waarheid*, beloftes*, verbondsluitings*, besluite en verklarings. God se Naam* is heilig* en so ook ’n eed wat in sy Naam gesweer word. Dit verseker die familie* se eer en die stam se lojaliteit (1 Sam 20:3). Om God se Naam te gebruik en meineed te pleeg (Lev 5:4; 6:3), is om dit te misbruik en te ontheilig (Eks 20:7; Lev 19:12; Matt 5:33). Daarom impliseer eedswering in God se Naam ’n outomatiese vloek indien dit vals sou wees. Eedswering word verbind met God, sy verbondsverhouding met Israel*, sy beloftes, sy oordele* en sy Woord*. By eedswering het die persoon in Bybelse tyd gewoonlik sy regterhand na die hemel uitgesteek of dit op die heup van die ander party gesit.

God sweer by Homself (Eks 32:13) met die verbond met Abraham* (Gen 22:16; 26:3; Ps 105:9; Luk 1:73; Heb 6:13-18), die belofte aan Dawid* (Ps 89:4; 132:11; Hand 2:30) en die bevestiging van Christus* se onveranderlike hoëpriesterskap* (Heb 7:20-21). In die Matteus*-Evangelie verbied Jesus eedswering (Matt 5:34), omdat eedsweerders destyds die Godsnaam vermy en ligtelik by allerlei ander sake gesweer het (Matt 5:34-36; 23:16-22). Christene* mag wel op verantwoordelike wyse sweer (Matt 26:63-64; 2 Kor 1:23; Gal 1:20).

 

Sidebar