SYNSANALOGIE

SYNSANALOGIE. God openbaar Homself aan die mens langs die weg van analogie, dit wil sê deur vergelyking ten spyte van verskil. Die vraag kan egter gestel word of teologiese denke en spreke as sodanig nie volledig afhanklik is van ’n bepaalde analogie tussen die bestaan van God en die bestaan van die mens nie: ’n synsanalogie dus. Volgens sommige teoloë is die synsanalogie of analogia entis die basis vir menslike ontvanklikheid van Goddelike openbaring*. Wanneer God in sy Woord* sê dat die mens sy beeld* is, is die implikasie dat Hyself daarmee ’n analogie stel tussen Homself en die mens. Hy het die mens geskep as eindige openbaringsvorm van die oneindige God. Daarmee het Hyself ’n betroubare ooreenkoms en gelykenis tussen Skepper en skepsel vasgestel. By sy Selfopenbaring aan die mens, gebruik God dus ’n analogiese spreekwyse as metode, maar dié metode is op sy beurt weer moontlik op grond van die synsanalogie: die mens wat beeld van God is, is as sodanig in staat om langs die weg van openbaring tot kennis van God te kom.

 

Sidebar