SYNSETIEK

SYNSETIEK. In morele* besinning word soms ’n beroep gedoen op die uitdrukking dat handelinge op syn (bestaan) rus (agere sequitur esse). Dit steun op die belangrike gedagte dat die handelinge of dade van die morele persoon nie van die persoon se visie, karakter*, deugde* en passies geskei kan word nie. Daar is kontinuïteit tussen ons handelinge en ons identiteit. Dit suggereer dat ’n daad-etiek* (“ethics of doing”) ’n synsetiek (“ethics of being”) benodig. Daar moet egter op die dialektiese verhouding tussen ’n daad-etiek en ’n synsetiek gelet word. Ons handelinge rus nie net op ons identiteit nie, maar vorm dit immers ook. Die vormende krag van ons handelinge moet dus nie onderskat word nie. In die worsteling om keuses te maak en om die juiste gedrag in ’n spesifieke situasie te probeer onderskei, word ons karakter geslyp. Anders gestel: dade én deugde is belangrik vir die morele lewe. Nogtans is dit belangrik om die aksent in die oog te hou dat dit in die morele lewe nie net oor die handelinge en keuses van die morele agent gaan nie, maar ook, en selfs primêr, oor die identiteit van die handelende agent. Die plasing van die klem op die identiteit van die handelende agent, roep egter ook soms die kritiek op dat so ’n benadering te subjektivisties en relativisties is, aangesien dit nie genoeg aandag gee aan objektiewe norme waaraan morele oordele getoets kan word nie. Uit ’n teologiese hoek kan ook geargumenteer word dat die vraag wie ons is, nie van die vraag wie God is, geskei moet word nie.

 

Sidebar