TABERNAKEL

TABERNAKEL. Die Hebreeus* vir “tabernakel” is “tent” en word weerspieël in wisselvorms soos “tent van ontmoeting” (Eks 27:21) en die “tent met die getuienis” (Num 9:15). Al die benamings verwys na die draagbare heiligdom wat deur die Israeliete* by Sinai*2 gemaak is (Eks 25-30; 35-40) om as plek van ontmoeting tussen die Here* en sy volk te funksioneer. Mettertyd is die tabernakel by Silo* opgerig (Jos 18:1) en tydens Salomo* se regering is dit eers in Gibeon* (1 Kon 8:4) en later in die tempel*1 opgeneem (2 Kron 5:5).

Die ontwerp van die tabernakel word deur God self aan Moses* bekend gemaak (Eks 25:9, 40). Dit behels ’n tent gemaak van bokhaar, leer en ’n houtraamwerk, waarvan die afmetings 4,6 m x 4,6 m x 14 m was. Die tent is deur ’n veelkleurige gordyn in twee geskei en van die belangrikste kultiese voorwerpe in die eerste deel van die tabernakel was die goue kandelaar* met sewe arms, die doringhouttafel met offerbrode* en ’n goue brandofferaltaar*. In die tweede, allerheiligste, deel van die tabernakel was daar die ark* van die verbond met die Tien Gebooie*, die kruik met manna* en die staf van Aäron* (Num 17: 1-11).

Sidebar