TAFELS VAN TOONBRODE

TAFELS VAN TOONBRODE, letterlik “die brood wat voor God se aangesig ten toon gestel is” (Hebreeus* lehem happanim of Grieks* artoi tés prosthéseos, Eks 25:30) of “brood van ordening” (lehem hamma ‘reketen, 1 Kron 9:32), ten toon gestel op die tafel in die tabernakel* se heiligdom, net buite die allerheiligste. Dit was twaalf ringbrode, uitgepak in twee stapels van ses elk en dit moes elke sabbat* vervang word (Lev 24:5). Dit was simbolies van ’n sigbare “ewigdurende offerande*” aan die Here*, net soos die ewigdurend-brandende lig, die ner tamid (Kyk by: Tempelwyding). Dit was hierdie gewyde brode wat deur die priester1* aan Dawid* en sy soldate gegee is toe hulle honger (maar wel aan God gewy) was (1 Sam 21:6), en dit is na hierdie insi­dent wat Jesus* verwys (Matt 12:3) toe Hy deur die Skrifgeleerdes* gekonfronteer is omdat sy dissipels* op ’n sabbat koringare uitgevryf en die korrels geëet het. In ’n noodsituasie is dit geoorloof om ’n rituele, seremoniële wet* te oortree, om sodoende ’n groter gebod te gehoorsaam en ’n mens* aan die lewe te hou.

Vir verdere lees: K Koch 1970: “Toon­broden” in: B Reicke en L Rost (red), Bijbels-historisch woordenboek, deel 5. Utrecht: Het spectrum.

Sidebar