1 EN 2 TESSALONISENSE/THESSALONISENSE (BYBELBOEKE)

1 EN 2 TESSALONISENSE/THESSALONISENSE (BYBELBOEKE). Tessalonika was die hoofstad van die Romeinse provinsie Masedonië* (Kyk by: Romeinse Ryk), en Paulus* het daar aangekom uit Filippi* met die Via Egnatia (Hand 17:1-9). Paulus se prediking* van Jesus* as gesalfde (Kyk by: Salf) Here*, het positiewe reaksie gehad en gelei tot die bekering* van veral talle heidene*, tot ont­steltenis van die Jode*. Die skerp woorde teen Jode (1 Tess 2:13-16) moet verstaan word binne die konteks van vurige teenstand teen Paulus se werk in hierdie gebied (vgl Hand 17:5) en nie as tydlose verdoeming van Jode nie. Immers, sommige Jode word van spesifieke oortredings beskuldig wat nie teenoor Rom 11:25-32 staan nie. In teenstelling met Hand 17:4 het die gemeente* wat in Tessalonika ontstaan het, hoofsaaklik uit heidense bekeerlinge bestaan (1 Tess 2:14).

1 Tessalonisense is waarskynlik Paulus se heel vroegste brief* – en dus een van die vroegste Christelike geskrifte – en kan teen 50/51 nC gedateer word. Die opsomming in 1 Tess 1:9-10 is waarskynlik die oudste Christelike verkondiging aan heidene* wat vandag beskikbaar is.

Alhoewel Silvanus (Kyk by: Silas) en Timoteus* saam met Paulus as outeurs aangedui word (1 Tess 1:1), is Paulus duidelik die skrywer en hooffiguur in 1 Tessa­lonisense met verwysings na sy aanvanklike prediking* en hande-arbeid (2:1-11), sy behoefte om die gelowiges* in Tessalonika te besoek (2:18), en sy verblyf in Atene* (3:1). 1 Tessalonisense kommunikeer as ’n regte brief* en nie ’n tegniese rede nie, en bestaan naas ’n kort inleidende (1:1-5) en slotgedeelte (5:25-28) uit twee hoof­ge­deeltes wat die brief min of meer in twee verdeel. In 1:6–3:13 bespreek Paulus sy verhouding met die gemeente* en verdedig sy integriteit, terwyl hy in 4:1–5:24 die gelo­wiges aanmoedig om volgens die wil* van God te lewe in die wete dat Christus* se wederkoms* enige oomblik kan gebeur. Die brief roep heidene op tot geloof* in die lewende God eerder as om gode se afbeel­dings te dien, vermaan hulle om op gepaste wyse te lewe, en vertoon elemente wat ti­pies is van bemoedigende en teregwysende briewe van daardie tyd. Dit kan na aanlei­ding van die antieke retoriek as delibe­ratiewe of besluitnemingsliteratuur geklassifiseer word. Paulus se gedagtegang moet liefs aan die hand van Tessalonika se konteks verstaan word. Meer spesifiek: Die invloed van filosowe* belig Paulus se outobiografiese beskrywing (2:1-12) en die paranese (4:1-12); Dionisius* en Kabirus se kultusse plaas Paulus se aanwysings oor seksuele etiek (4:1-9) in konteks, en die openbare kultusse help om die eiesoortigheid van die eskatologiese* aanduidings (4:13-18) te verstaan. Alhoewel daar drie belangrike Christologiese* gedeeltes voor­kom (in 1:10, 4:14 en 5:9-10), ontbreek Paulus se teologiese en linguistiese materiaal wat in die later briewe gevind word, soos die gebruik van die Ou Testament* of verwysings na Ou-Testamentiese persone, verwysings na die tora*,  regverdiging* deur die geloof*, en die doop* en nag­maal*. Die gemeente* het skynbaar nog ’n heel informele leierskap gehad (1 Tess 5:12).

2 Tessalonisense is volgens sommige navorsers deur ’n onbekende gelowige en ’n ondersteuner uit die Paulus- groep geskryf. Waarskynlik gebruik hy 1 Tessalo­nisense as grondpatroon vir sy brief, beide wat struktuur en inhoud betref, om met ’n spesifieke situasie van vervolging in Mase­donië* (2 Tess 1:4, 6-7) te handel. Die brief se hoofgedeelte bestaan uit drie afdelings wat onderskeidelik ’n danksegging vir standvastigheid van die gelowiges is (1:1-10), die opgewondenheid oor die openbaring van die nabye wederkoms bespreek (2:1– 3:5), en ’n oproep tot die lesers rig om nie ledig en sonder dissipline te lewe nie, maar eerder Paulus se voorbeeld tydens sy verblyf daar na te volg (3:6-16). Pogings om Paulus se outeurskap van 2 Tessalonisense te verdedig, berus meestal op die aanname van sosio-historiese veranderings in Tessa­lonika, of selfs dat verskillende groepe aan­gespreek word in die twee briewe. Die outeurskap van Paulus self kan egter moeilik ge­handhaaf word in die lig van linguïsties-literêre gegewens (woordeskat, styl, gebrek aan persoonlike warmte) en teologiese argumente (andersoortige eskatologie, Christologie, teologie, en die klem op die navolging van tradisie*). Die verwysing na Paulus se onder­tekening (2 Tess 3:17) as teken van egtheid strook nie met ander gevalle waar Paulus doelbewus sy merk laat nie (1 Kor 16:21; Gal 6:11; Filem 19). Die outeur van 2 Tessalonisense herinterpreteer die Paulus-tradisie in terme van die apoka­liptiese* eskatologie* ter ondersteuning van die getrouheid van Christene wat vervolg word.

Sidebar