TALE (TONGE)

TALE (TONGE). In die Ou Testament* kry ons die verhaal van Babel* (Gen 11:1-8) waar die veelheid van “tonge” of “tale” toegeskryf word aan die taalverwarring waardeur God die nasate van Noag* oor die wêreld – wat tot in daardie stadium een taal sou gepraat het – versprei het. Glõssai (Grieks*) beteken letterlik “tonge”, maar word ook metafories* vir tale gebruik. In die Nuwe Testament* word “tonge” soms as sinoniem vir glossolalie* (tongspraak) ge­bruik wat as een van die gawes* van die Gees* gereken word (1 Kor 12; 14). Jesus* se belofte* van die gawe van tonge (Mark 16:17) word bewaarheid op Pinkster* (Hand 2:4-11), alhoewel dit daar manifesteer as vreemde tale (xenoglossia) eerder as glossolalie, en die fokus is op die verstaan eerder as die praat van die vreemde tale. Die moontlikheid dat tonge na ’n “hemelse taal (of tale)” verwys, na aanleiding van sake soos engeletaal (1 Kor 13:1), die interpretasie van geheimenisse* (1 Kor 14:2) en spreke met God (1 Kor 14:28), lewer geen bydrae om die linguistiese en psigologiese dimensies van glossolalie onder vroeë gelowiges* beter te verstaan nie. Paulus* toon gemengde gevoelens oor glossolalie en waarsku teen die onoordeelkundige gebruik daarvan (1 Kor 14:27-28).

Sidebar