TARGUMS

TARGUMS. In Esra 4:7 word gesê: “Hierdie brief is in Aramees* geskryf en in Aramees geïnterpreteer.” Die Hebreeuse* woord vir “interpreteer” is targum en word gebruik om die Aramese vertalings van die Hebreeuse Bybel te beskryf. Ná die Babiloniese bal­lingskap*2 (587–539 vC) was die Perse* aan bewind in die Ou Nabye Ooste met hulle taal, Aramees, as algemene gebruikstaal. Die Judeërs* (later Jode) kon nie meer He­breeus verstaan nie, gevolglik moes die Bybel in Aramees interpreteer/vertolk word. Die balling­skap het tot gevolg gehad dat die Judaïs­me* verdeel is, aanvanklik in ’n Palestynse en Babiloniese Judaïsme, en later, ná die koms van die Hellenisme*, ook in ’n Aleksandrynse Judaïsme.

Die vertolking van die Bybel het veral in die sinagoges* plaasgevind wat ontstaan het ná die val van die tempel* in 587 vC. Dit het tydens die liturgie* van die godsdienstige byeenkomste geskied deur ’n opgeleide per­soon, ’n targumis, wat sy interpretasie staande gelewer het nadat ’n gedeelte deur ’n rabbi* hardop voorgelees is. Hierdie vertolkings is volgens vasgestelde reëls uitge­voer wat van konteks tot konteks verskil het. Sommige was meer letterlik van aard, terwyl ander weer meer interpreterend was. Aanvanklik is hierdie vertolkings monde­lings oorgelewer, maar mettertyd is dit op skrif gestel. Dit bring mee dat die Targums almal ingewikkelde ontstaans- en oorleweringsgekiedenisse het. Die verskeidenheid in Targum-interpretasies het ook mettertyd standaardisering noodsaaklik gemaak.

Daar word normaalweg ’n verdeling tus­sen die Babiloniese en Palestynse Targums ge­maak:

Pentateug-Targums:

  1. Babiloniese Targums: Targum-Onkelos – die naam Onkelos is die gevolg van ’n verwarring met Aquila (Akilas) wat vir ’n Griekse* resensie (= vertolking) verant­woordelik was. Dié Targum is in die 9de eeu nC as die amptelike Babiloniese Targum op die Pentateug* aanvaar. As standaard-Targum is dit meer letterlik van aard, ofskoon dit wel enkele woorde as vertaling bevat wat eksegetiese inligting deurgee.
  2. Palestynse (Jerusalemse) Targums: Van hierdie Targums bestaan daar heelwat manuskripte en hulle is oor die algemeen meer parafraserend van aard.

Pseudo-Jonatan – die benaming het oorspronklik verkeerdelik na Jonatan ben Uzziel verwys, vandaar Pseudo-Jonatan. Dit bevat ’n vertolking van die hele Pentateug met vroeë en laat tradisies. In hierdie Genesis word selfs na die vrou van Mohammed* verwys.

Fragmente Targums – hier is sprake van variante Targumlesings wat met ander Targums ooreenstem.

Targum Neofiti – dit is in die Vati­kaanse* biblioteek in Rome* ontdek nadat dit vroeër as ’n Onkelos-targum beskou is. Dit bevat baie interpretasies, asook heelwat aantekeninge in die kantlyn.

Ander Targums: Daar bestaan Targums oor elke boek van die Hebreeuse Bybel. Daar is sulke vertolkings by Qumran* ontdek.

Sidebar