TARSUS

TARSUS was die belangrikste stad in die suidoostelike deel van Klein-Asië* in die Ro­meinse provinsie Silisië*, en dit was Pau­lus* se geboortestad. Dit moet onderskei word van Tarsis*. Tarsus het reeds voor 2000 vC bestaan en Hettitiese tekste verwys daarna. Nadat Aleksander*1 die Grote Silisië in 333 vC verower het, was die gebied hoofsaaklik onder beheer van die Seleukiede, en ná Pompejus se verowering in 67 vC was Tarsus onder beheer van die Romeinse Ryk*. Die bekende Cicero was prokonsul van Silisië in 51–50 vC, en Tarsus verkry spesiale voorregte onder Antonius en later onder keiser Augustus*. Tarsus het wye be­kendheid verwerf as ’n intellektuele sentrum, en Strabo skryf dat Tarsus se inwo­ners op talle gebiede van die filosofie* en wetenskap aktief was. Volgens Hand 9:11, 30; 11:25; 21:29; 22:3 was Paulus ’n boorling van Tarsus, lid van ’n welgestelde en prominente Joodse* gesin, met plaaslike en Ro­mein­se burgerskap. Indien Paulus inderdaad ’n tentmaker was, is dit goed verklaarbaar teen die agtergrond van tekstielvervaardiging in Tarsus. Alhoewel Paulus ’n deel van sy opleiding in Tarsus kon gekry het, meen sommige dat, volgens Hand 22:3, Paulus volledig Joods in Jerusalem* opgevoed is, iets wat hoofsaaklik beskore was vir die kinders van welgesteldes.

 

Sidebar