TAS, ADAM

TAS, ADAM (1668–1722) is in Amsterdam gebore en immigreer in 1697 na die Kaap. Sy tante Maria was destyds getroud met Henning Husing by wie Adam aanvanklik op sy plaas Meerlust gewerk het. Hy is in 1699 aangestel as vaandrig of vaandeldraer en word dieselfde jaar lidmaat van die NG Kerk* (hy was van Joodse afkoms). Hy was ook diaken* en ouderling* in die Stellen­bosse kerk én ’n heemraad. Tas is in Junie 1703 met die ryk weduwee Elizabeth van Brakel getroud wat sy lewensomstandig­hede drasties verander het na ’n welvaren­de boer op die plaas Libertas naby Stellen­bosch.

Tas se aanvanklike goeie verhouding met die owerhede het veral versuur met WA van der Stel*, die goewerneur, se toekenning van pagte aan Van der Stel se in­vloedryke vriende vir die lewering van bv wyn en vleis. Dit het uiteindelik tot ’n petisie of “Klachtschrift” in Janua­rie 1706 aan die Here XVII aanleiding gegee wat deur Tas en 63 vryburgers onderteken is. Die goewerneur het in sy fel reaksie die leiers van die versetbeweging gevange geneem en in die Kasteel* aangehou waarna verdere aantygings oor en weer gemaak is – met die Here XVII gewoonlik as arbiter. Saam met ander protesskrifte deur Tas het dit bygedra tot die herroeping van WA van der Stel en verskeie van sy amptenare en vriende, insluitende ds Petrus Kalden*, na Nederland in 1708.

Tas se skryfwerk in sy Dagboek toon onmiskenbare literêre kwaliteite wat saaklik maar plek-plek ook humoristies en selfs satiries is. As belese boekemens kon hy met ’n skindertong allerlei kwinkslae en kras uitsprake oor vriend en vyand maak. As bedrewe en gewilde politieke en sosiale figuur het hy met sy uitdagende optrede en geskrifte sake soos skynheiligheid, aristokratiese hoogmoed en burokrasie, asook die destydse monopolistiese beleid, nepotisme en korrupsie, met sy pen beveg. Dieselfde geld vir Van der Stel se spandabelrige leefwyse op Vergelegen naby Somerset-Wes.

Vir verdere lees: PB van der Watt 1993: Kerklike potpourri. Pretoria: Geestesdina­miek. 19682. Suid-Afrikaanse biografiese woor­de­boek, deel 2. Pretoria: RGN.

 

Sidebar