TAULER, JOHANN

TAULER, JOHANN (1300–1361), is vanaf 1315 in Straatsburg ’n Dominikaanse monnik* wat ontwikkel tot beroemde Duitse mistikus (Kyk by: Mistiek, en: Mistisisme). Hy is sterk beïnvloed deur Tho­mas Aquinas*, Meister Eckhart* en Henry Suso. Hy verwerf bekendheid as prediker. Sy selflose toewyding aan die versorging van siekes tydens die Swart Dood in 1348 het hom beroemd gemaak. Hy bou sy op­vat­tings op die leerstellings van Thomas, maar rig dit uiters prakties in. Hy beklemtoon die inwoning van God in die menslike siel*. Kenmerkend van alle mistiek, word by hom ook die noukeurige omskrywing van die “mistieke weg” aangetref met sy verskillende stadia of trappe wat vir die mens noodsaaklik is. Dit bestaan veral in die beoefening van die deug van nederig­heid* en die absolute aanvaarding van en gehoorsaamheid* aan die wil* van God. Na die eenwording met God moet gesoek word, nie maar net om met God een te kan wees nie, maar met die oog op die vrug wat hierdie eenwording kan oplewer, naamlik die toename in naastediens en die krag om ’n lewe van lyding* en selfopoffering te kan lei. Luther* het geoordeel dat by Tauler dieselfde “innerlikheid en erns” terug te vind was as by homself in sy afkeer van die werkheiligheid van die Katolieke Kerk*.

 

Sidebar