TAYLOR, JAMES HUDSON

TAYLOR, JAMES HUDSON (1832–1905) het in ’n Christelike ouerhuis in Engeland grootgeword, maar nie sy ouers se Meto­diste*-sentimente gedeel nie. Op 17 kom hy tot bekering* nadat hy ’n traktaatjie gelees het. Hy besluit om as sendeling* na China* toe te gaan. Hy het begin om Mandaryns, Grieks*, Hebreeus* en Latyn te leer. In 1851 het hy na ’n arm woonbuurt verhuis om hom vir ’n lewe van geloof* en diens voor te berei in die wete dat die Here* sal voorsien. In 1852 skryf hy in vir ’n mediese kursus. Voordat hy egter sy studie voltooi, vertrek hy aan die einde van die volgende jaar na China toe. Taylor het baie terugslae beleef – onder meer het ’n brand al sy mediese voorraad en toerusting verwoes. In China het hy die stigter van die China Inland Mission geword – tans bekend as die Overseas Missionary Fellowship (OMF). Hy het vir 51 jaar in China gewerk, meer as 800 sendelinge na daardie land gebring en self meer as 50 000 bekeerlinge gedoop*. Sy agterkleinkind, wat sy naam dra, werk nog steeds as sendeling in China. (Kyk ook: Geloofsending.)

 

Sidebar