TAYLOR, ROBERT SELBY

TAYLOR, ROBERT SELBY (1909–1995) is in 1932 as geestelike in die Anglikaanse Kerk* georden en in 1933 tot die priester­­amp*2 toegelaat. Hy het sy eerste jare as biskop* in Noord-Rhodesië (1941) deurgebring voordat hy biskop geword het van Pretoria (1951), Grahamstad (1959) en uiteindelik aartsbiskop van Kaapstad (1964–1974). Taylor se toewyding aan sy roeping blyk uit sy bereidheid om selfs ná sy aftrede en tot met sy dood terug te keer as biskop in Zambië.

As Anglikaanse biskop het Taylor baanbrekerswerk verrig vir die land se ekumeniese* gemeenskap. Gedurende die 1960’s en 1970’s speel hy ’n sleutelrol om groter eenheid tussen Anglikane, Meto­diste*, Presbiteriane* en Kongregasiona­liste* te bewerkstellig. Dit was grootliks aan Taylor se harde werk en inisiatiewe te danke dat hierdie kerke daarna nader aan mekaar beweeg het.

Die land se politieke onreg tydens die jare van apartheid* het hom na aan die hart gelê. Taylor was ’n man van min woorde, maar hy het hom onomwonde aan die kant van die onderdruktes geskaar en het hom ten volle vereenselwig met die stryd en aspirasies van die land se veront­regtes.

Sidebar