TEATER EN GODSDIENS

TEATER EN GODSDIENS. Die verhouding tussen godsdiens* en teater staan dikwels in die teken van konfrontasie. Van die Romeinse* periode af is daar ’n gespanne verhouding tussen die kerk* as gemeenskap en die teater as ver­gestalter van idees en van ’n alternatiewe gemeenskap. Sedert die Middeleeue en die Renaissance* was die godsdiens bevoor­oordeeld teenoor die teater omdat die teater ’n dualistiese wêreldbeskouing daarop sou na­hou. Godsdiens en teater is, volgens Nietzsche*, albei ritualisties in aanbod, beide met die bedoeling om te kommunikeer.

In die kerk was later ’n beweging, veral ge­sterk deur die Afro-Amerikaanse litur­giese* aanbiedings, wat die preek* as vertolking en dus ook as teater gesien het. “Godsdiens as teater”, is die herontdekking van die rite om die verhouding tussen mens en God te realiseer en te vier. Die Katolieke Kerk* word, ondanks sy geskiedenis van teenkanting teen die praktyk van die teater, self die vernuwer van die Wes­terse teater met die manier waarop die mis* gevier word.

In die Protestantse* kerke het die 1919-aanbieding van The Wayfarer: A Pageant of the Kingdom ’n belangrike invloed op die Amerikaanse teater uitgeoefen. Hierdie aanbieding in Columbus, Ohio, was ’n kragtige vertolking van Metodisme* en die teologie van John Wesley* as teater.

In Japan het twee betekenisvolle Chris­telike dramas binne die konteks van die Kato­lisisme, verreikende gevolge gehad, veral vir die na-oorlogse Oosterse teater. Albei dramas verwys na die verwoesting as gevolg van die Nagasaki-atoombom met die fokus op martelaarskap. Die Urakomi-katedraal was die grondteiken van die bom, en die dis­koers daarna was waarom God die één “Christelike” stad in Japan sou uitsonder vir hierdie ramp. Tanaka Chikao (1958) ondersoek die bom as teofanie* met die diskoers dat die geloof* van die oorlewendes deur die bomverskrikking versterk is. Ernst Ferlita pas Chikao se teks in 1996 aan uit die perspektief van die Sjinto en Boeddhisme* en stel voor dat oorlewendes van die ramp in ’n “lewende vaevuur” leef en dat die dooies die martelaars is.

Ná die aanval van 11 September 2001 op die Twin Towers in New York, het gods­dienstige opvoerings in Amerikaanse kerke mense gehelp om die trauma te verwerk (Kyk by: Nine-Eleven). “Teoteater”* (teologie + teater) kom deesdae al hoe meer in Protestantse kerke voor waartydens met woorde, beelde, bewegings en danse ’n Bybelgedeelte of teologiese begrip vertolk word.

Die grootste herlewing van godsdiens in teaterverband in die laaste helfte van die 20ste eeu was die musiekblyspele van Andrew Lloyd Webber en Tim Rice, Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat (1968) en Jesus Christ Superstar (1971). Suid-Afrika was die enigste land wat die aanbieding van Superstar aanvanklik verbied het op grond van beweerde godslastering. Stephen Schwartz se Godspell (1973), ge­baseer op die Evangelie van Matteus*, was ook ’n wêreldtreffer.

Passiespele val binne die domein van die godsdiens en word as teater aangebied. Die beroemdste is die Katolieke Oberammergau-passiespel wat sedert 1633 gereeld in die Bavariese dorpie Oberam­mer­gau, wat destyds van ’n pes bewaar is, aangebied word. Meer as 2 000 inwoners neem telkens daaraan deel. In die afgelope dekades het passiespele ook in Protestantse kerke in Suid-Afrika gewild geword. Die destydse leraarspaar van die NG Kerk* Rondebosch, Ernst en Frieda van der Walt, was in dié verband voorlopers toe hulle in die 1990’s met gereelde opelug-passiespele in Maynardville in Wynberg, Kaapstad, begin het. Passiespele word in navolging daarvan deesdae dikwels deur gemeentes in Paastyd opgevoer. (Kyk ook: Van den Vondel, Joost.)

Sidebar