TEHUISE VIR ONGEHUDE MOE­DERS

TEHUISE VIR ONGEHUDE MOE­DERS het teen die einde van die 19de eeu ontstaan toe ’n groep lidmate van kerke in die Kaapse Skiereiland besorgd geraak het oor die nood van vroue. In 1881 is die Reddingshuis begin wat ’n tweërlei doel gehad het, naamlik die “bekamping van ontug en tweedens om die vroue tot ’n skoon lewe te herstel en in nuttige be­trekkings op te lei.” Kort daarna, in 1902, het die NG Kerk* ook besluit om ’n inrig­ting te begin, die Magdalenahuis, met die doel om ongehude moeders te help, maar in die beginjare is getroude vroue, wat as gevolg van die Anglo-Boereoorlog* in armoede verval het, ook versorg. Vroeg in die 20ste eeu is ’n “reddingshuis vir gevalle Kleurlingvroue” deur Anna Tempo onder die straatvroue in Kaapstad begin. Dit het later die Nannie-huis geword.

Tehuise vir ongehude moeders se pri­mêre doel van versorging en opheffing is mettertyd uitgebrei om ook berading, voorligting en ondersteuning met die beplanning van die toekoms van die baba in te sluit. Die openbare mening jeens ongehude ouerskap het weens ’n verskeidenheid van redes in die laaste deel van die 20ste eeu begin verander. Alhoewel die openbare mening verander het, is daar steeds behoefte aan tehuise vir moeders met krisis-swangerskappe.

Vir verdere lees: ES Van der Schyff 1977. Die rol van die Ned Geref Kerk in die inisiëring van maatskaplike en ander dienste in die Kaapse Skiereiland, 18441937. Ongepubliseerde proefskrif, Universiteit van Pretoria. CJ Kriel 1963. Die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Sen­ding­kerk in SuidAfrika 18811956. Paarl: Paarlse Drukpers.

Sidebar