TEÏSME

TEÏSME is ’n godsdienstige of filosofiese oortuiging dat daar ’n God bestaan; in dié sin is dit die teenoorgestelde van ateïsme*. Anders as politeïsme* aanvaar dit dat daar net een God bestaan, en verwerp dus ook die henoteïsme waarvolgens net één van ’n veelheid gode vereer moet word. Teïsme verskil van panteïsme* daarin dat dit ’n radikale onderskeid tussen God en wêreld verdedig en God as ’n persoon voorstel. Soos met deïsme* word God beskou as die Skepper (Kyk by: Skepping) van alles uit niks, maar in teenstelling met deïsme is teïsme oortuig van die Goddelike openba­ring* en glo in God se ingryping in die geskiedenis. Filosofiese teïsme sluit nie die moontlikheid van openbaring uit nie, maar is, anders as godsdienstige teïsme, nie daarop gebou nie. Teïsme handel dus óf oor die God van die natuurlike teologie*, óf oor ’n selfgeopenbaarde God en by name in die groot monoteïstiese godsdienste: Judaïsme*, die Christelike geloof* en die Islam*. Teïstiese trekke kan egter ook in die Hindoeïsme* (bv in die Bakhti-vroomheid) en in die Mahayana-Boed­dhisme (Kyk by: Boeddhisme) uitgewys word.

Teïste besef dat die volle begrip van God as die uiteindelike werklikheid buite hulle bereik lê, maar probeer om so naby moontlik daaraan te kom – óf deur direkte ervaring (moreel, esteties of rasioneel, soos in verskillende vorms van mistiek*), óf deur die bestudering van die skriftelike openba­ring, of deur rasionele argumentasie. Filosofiese teïsme poog om die konflikterende aansprake van godsdienstige teïs­mes te bowe te kom.

Gewoonlik bevat ’n teïsme die meeste van die volgende eienskappe van God: God is ’n nie-materiële wese (teïsme word téén materialistiese kosmologieë gehandhaaf) wat nie uit kleiner elemente saamgestel is nie en nie in wese verander nie. God is ongeskape en onsterflik en bestaan dus ewig. Daar is in die bestaan van God geen toeval nie; God bestaan noodwendig en daarom opponeer teïsme fatalisme*. Terwyl alle dinge vir hulle bestaan van God afhanklik is, is God onafhanklik van alles. God is vry, selfstandig, alomteenwoordig, alwetend en almagtig. God se wil en rede is volmaak en word gekenmerk deur vol­kome goedheid. Hoewel slegte dinge van God af kan kom, is God nie die oorsaak van die bose nie. Die oorsprong van die mens se etiese plig is in God. God kan, en moet selfs, geken en vereer word.

Die grootste probleem in die teïsme is om God se goedheid en almag in verband te bring met lyding op aarde. Dit staan be­kend as die teodisee*-probleem.

Sidebar