TEKENS VAN DIE TYE

TEKENS VAN DIE TYE is die tekens van die nabye wederkoms* van Christus*. Daar is algemene tekens soos aardbewings, oorloë, hongersnood, vervolging, en daar is ’n paar spesifieke tekens soos die Antichris*, die Jode*, die sending*.

Die gewone interpretasie is dat hierdie tekens bedoel is om ons in staat te stel om te bepaal wanneer die wederkoms naby sal wees. Omdat die algemene tekens van die tyd van Jesus* af gereeld voorgekom het, word aanvaar dat dit net voor sy weder­koms intensiewer sal word. Die probleem is egter dat die gedagte van “intensiewer” nêrens in die Bybel* voorkom nie, en ver­der dat niemand weet hoe intensief dit moet word voordat dit dan aandui dat sy wederkoms naby is nie.

Tog word gemeen dat dit anders gesteld is met die besondere tekens, dat dit bv wel duidelik sal wees wanneer die Antichris verskyn en wanneer al die nasies die evangelie* gehoor het. Ook hiermee is daar egter probleme. Ook hierdie tekens is alreeds in die Nuwe Testament* vervul (1 Joh 2:18; Kol 1:6, 23; 2 Tim 4:17). Die vraag is dus of ons nie die boodskap van die Nuwe Testament eenvoudig ernstig moet opneem dat die Here* alreeds in die tyd van die Nuwe Testament werklik enige oomblik kon kom, en dat die tekens van die begin af in elke geslag vervul is as ’n staande herinnering dat ons die Here elke oomblik moet verwag nie. Dit lyk na die beste siening. Hierdie interpretasie het ook die voordeel dat daar nie bepaalde dinge is wat dan nog eers moet gebeur voor die Here kan kom nie. Dit is altyd vreemd om die dringende oproepe oor die nabye wederkoms te lees (waarvan die Nuwe Testament regtig vol is) dat ons elke oomblik gereed moet wees, maar dan te hoor van talle dinge wat nog moet gebeur voordat Hy regtig kan kom (Jak 5:8-9; Op 22:12; Matt 24:44; Rom 13:12). Die boodskap van die tekens van die tye is nog steeds wat dit van die begin af was: Wees elke oomblik gereed vir sy koms!

 

 

Sidebar