TEKSUITLEG

TEKSUITLEG. Die lees van die Bybel* was in die geskiedenis van die Christen­dom* nog altyd belangrik – nie alleen indiwidueel nie, maar ook in die vergadering van die gemeente. Hiermee saam was die uitleg van die Skriftekste ook van groot belang, ten einde die inhoud en betekenis van die tekste na vore te bring. Die teorie van teksuitleg het verskeie fases deurloop, maar in breë trekke kom dit op drie momente neer: Eerstens, ’n multi-dimensionele ondersoek na die betekenis van die teks, wat faktore soos die historiese, sosiaal-kulturele en linguistiese kan insluit. Die impak (werking) van die teks deur die eeue heen kom ook hier ter sprake. Tweedens, ’n besinning oor die relevansie van die teks – hier veral in persoonlike verband. Hierdie fase word ook soms die meditasie oor die teks genoem, die gelowige en biddende luister na die teks. Derdens, ’n soeke na die relevansie van die teks vir die tyd waarin die leser hom/haarself bevind: Wat sê hierdie teks vir ons samelewing en wêreld, vandag? Dit word ook aanvaar dat die manier waarop die (huidige) lesers die teks hoor en aanvaar, deel uitmaak van die teks self, en dat die korrektief en verryking van die gemeenskap van gelowiges in hierdie verband van groot belang is.

(Kyk ook by: Skrifuitleg; Eksegese; Bybel; Bybel: Mondelinge oordrag en teboekstelling; Bybelse norme; Bybelvertalingmetodes; Heilige Skrif; Skrifbeskouing; Skrifbewys; Skrifgebruik in die etiek; Skrifgesag; Teopneustie.)

Sidebar