TEMPEL (JERUSALEM)

TEMPEL (JERUSALEM). Tempels en altare was in die Ou Nabye Ooste van die oudste konstruksies om gode in hulle “huis” te aanbid (1 Sam 5; 31). In Mesopota­mië is ’n tempel in ’n stad aan ’n be­skermin­gsgod toegewy. Die god het die land besit terwyl die koning/heerser sy rentmeester* was. Gode is soms by ’n offeraltaar, ’n pilaar of boom aanbid. Toe Israel* as volk ontwikkel en hulle politieke mag in Jersusalem* gevestig het, het daar behoefte aan ’n tempel ontstaan. Verskeie tempels is vir Israel se God (Jahwe*/El*) in die volk se geskiedenis in Jerusalem gebou. Dit sluit dié van Salomo*, Serubbabel*, Herodes* asook die visioenbeskrywings van Esegiël* in.

  1. ‑Tempel van Salomo: Geen argeologiese bevestiging bestaan om Salomo se tempel te rekonstrueer nie. Bybelse teksgetuienis dien as hulp daarvoor (1 Kon 5–7; 2 Kron 2–4; Eseg 40; 43). Dawid* het voorbereidings getref (2 Sam 24), terwyl Salomo* dit teen die middel van die 10de eeu vC gebou het (1 Kon 6). Alhoewel onsekerheid oor die ligging en grootte van die tempel bestaan, is ’n voorstelling moontlik.

‑   Die Salomo-tempel het noord van die Ofel* gelê, op die noordoostelike heuwel in die gebied bekend as Haram esh-Sharif (Kyk ook: Arauna). Dit was ’n vierkantige gebou met drie ruimtes: ’n voorportaal, ’n binneruimte bekend as “Heilige” met trappetoegang na die “Allerheiligste” vertrek. By die tempelingang, wat na die ooste toe kyk, het twee pilare, Jagin en Boas, gestaan. Aan die buitekant van die drie ruimtes was verskeie kamers/ruimtes as stoorplek en bediendekamers. Die tempel is deur ’n binnehof omring, met ’n buitehof wat die tempel en paleisgebied omsluit het.

‑   Die tempel vertoon ’n Siries*-Fenisiese* boustyl. Dit bevestig Hiram van Tirus* se verbintenis met die tempelbou en lewe­ring van boumateriaal. In die Allerhei­ligste is die Godsbeeld verteenwoordig deur die ark* van die verbond, waaroor gevleuelde ge­rubs* getroon het. In die Heilige was ’n offeraltaar*, reukof­feraltaar*, tafel met toonbrode* en lig­staander*. Talle ander kultiese voor­werpe en gereedskap was in die voorhof en ander ruimtes. In 586/7 vC vernietig die Babi­loniërs* die tempel en neem die tempelskatte as buit.

  1. ‑Esegiël se tempel: Esegiël se voor­stel­ling van die tempel berus op ’n visioen (Eseg 40–44). Een groot onderskeid is dat hierdie tempel van die koningspaleis en die volk geskei is. Daarmee beklemtoon Esegiël die heiligheid van die heiligdom. God se heerlikheid vervang ook die verbondsark.
  2. ‑Serubbabel se tempel: Ná die bal­ling­skap*2 herbou Serubbabel die verwoeste tempel tussen 520–515 vC (Esra 6; 8; Neh 13). Teenoor Salomo se roemryke tempel was hierdie een meer beskeie (Hag 1–2). Hierdie tempel was ’n oriënteringspunt vir alle diaspora* Jode*. Antiogus* IV Epifanes roof kosbare tempelvoorwerpe daaruit (1 Makk 1; 4), maar die Makka­beers* reinig dit weer (164 vC).
  3. ‑Herodes se tempel: Tussen 19 en 9 vC het Herodes*1 die Grote die tempel op die basis van die Salomotempel nuut herbou. Twee voorhangsels het die Aller­heiligste van die res geskei. Daar was drie voorhowe, een elk vir mans, vroue en heidene. Dit was die tempel waarvan die Nuwe Testament* melding maak. Hier­die trotse aanbiddings­plek van inheemse en diaspora*-Jode is in 70 nC weer verwoes. Dele wat daarvan oorgebly het, is in die Bar Kogba-opstande* (135 nC) vernietig.
Sidebar