TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES

TEMPEL VAN DIE HEILIGE GEES. In 1 Kor 6:19 word na die liggame van die gelowiges verwys as ’n “tempel van die Heilige Gees*”. Hiermee word te kenne gegee dat die Heilige Gees in gelowiges woon. ’n Verdere implikasie van die gemelde teks is dat gelowiges aan God behoort – daarom mag die tempel nie geskend word nie. Die opdrag volg dat God ook deur die liggaam verheerlik moet word. Hierdie beeld het betrekking op die fisieke liggame van gelowiges, maar kan ook op die kerk van toepassing gemaak word. Die Korintiërs-teks verwys na seksuele losbandigheid. Deur dit op die liggaam as tempel van die Heilige Gees toe te pas, word gelowiges daaraan herinner dat die liggaam aan God behoort en dat God ook deur die liggaam verheerlik moet word. Uiteraard het dit nie net op die seksuele betrekking nie, maar op alles wat ’n mens doen. Toegepas op die kerk*, moet gelowiges deur hulle lewenswandel die kerk – en dus die Here van die kerk – tot eer strek. Die tempel van die Heilige Gees dui ook op die eenheidskarakter van die kerk. In Ef 2:20 en volgende verse word na die gelowiges verwys as ’n heilige tempel vir die Here*. Die implikasie is weer dat daar ’n korporatiewe verbondenheid aan God is en dat ’n gepaste lewenstyl deur gelowiges gehandhaaf moet word.

Sidebar