TEMPELPROSTITUSIE

TEMPELPROSTITUSIE word tradisio­neel gesien as godsdienstig-bepaalde seksuele omgang met vreemdelinge* in die nabyheid van ’n heidense* heiligdom, maar verwys meer korrek na sulke praktyke waarvan die opbrengs na die heiligdom gaan. Daar is dikwels aanvaar dat in heidense kultusse in Israel* aanbidders seksueel verkeer het met toegewydes by aanbiddingsplekke om so vrugbaarheid te bevorder (vgl 1 Sam 2:22; 2 Kon 23:7, 14; 2 Kron 15:16; Eseg 8:14; Hos 4:13). Volgens Kanaänitiese* mitologie* word die natuur se siklusse gesien as die resultaat van verhoudings tussen gode en godinne, en gro­ter seksuele aktiwiteit tussen gode as gevolg van kultiese seksuele omgang sou lei tot groter oeste en ’n toename in vee. Israel* sou hierteen gestry het as beide dwaas­heid* en afgodery*. Hierdie siening word bevraagteken in die lig van ongegronde aannames, twyfelagtige antropologiese* veronderstellings en gebrekkige getuienis. Dan is die seksuele uitspattighede eerder die gevolg van feestelikhede en ruim drankgebruik as van godsdienstige oorwe­gings. Die verband tussen tempelprostitusie en fertiliteitsrites is onder verdenking, alhoewel Ou-Nabye-Oosterse samelewings prostitute wat in diens van die tempel* gewerk het (bv 2 Kon 23:7), ken. Die vervulling van ’n eed was blykbaar soms die aanleiding tot geleentheidsprostitusie (Num 6; Spr 7:14), veral onder kinderlose vroue (1 Sam 1:11; Spr 31:2). Deut 23:17-18 wys dat die gebruik om tempelgelde uit die opbrengs van prostitusie* te betaal, nie onbekend was in Israel nie. (Kyk ook: Hoer.)                                                                      

Sidebar