TEMPELWYDING

TEMPELWYDING is ’n Joodse fees (Hebreeus* hanoeka) en verwys na die herinwyding van die tempel*2 nadat dit deur die Grieks-Siriese koning* Antiogus* Epifa­nes II (“die verligte”) op 25 Kislev ontheilig is toe Antiogus ’n vark in die tempel geslag het. Teen Antiogus se verdrukking het die Jode* onder leiding van Mattatias en sy vyf seuns (die Makkabeërs of “hamerslaners”. Kyk by: Judas Makkabeus) in opstand ge­kom, die Siriërs uitgedryf en Jerusalem* herower. Om die tempel weer te wy, moes die ner tamid weer opgesteek word, ’n lamp wat elke dag in die tempel brand, met olyfolie as brandstof. In die tempelruïnes is slegs een fles olyfolie ontdek, net genoeg vir een dag. In geloof het die priesters*1 al die olie op die eerste dag gebruik, en toe op die tweede ontdek dat daar weer olie in die fles was, genoeg vir nog ’n dag. So is die fles olyfolie vir agt dae gebruik, totdat nuwe olie voorberei kon word. Om God se bewa­ring te herdenk, word die tempelwydingsfees vandag oor agt dae gevier deur die aansteek van spesiale hanoeka-kandelare. Jesus* se besoek aan Jerusalem (Joh 10:22) was in die winter (25 Kislev wat ongeveer met Desember saamval).               

Sidebar