TEMPLE, WILLIAM

TEMPLE, WILLIAM (1881–1944) was aartsbiskop van Kantelberg* (1942–1944) en leier van die ekumeniese* beweging. Hy het aan Oxford (1900) en Jena (1906) studeer, was dosent aan Queen’s College, Oxford (1904) en is in 1908 georden. Hy word rektor van St James’, Piccadilly (1914), lei ’n veldtog vir hervorming van die staatskerk (1889–1919), word biskop van Manchester (1921) en aartsbiskop van York (1928).

Temple se wye belangstelling en strenge morele kode (nie-roker, nie-drinker) met ’n verbasende geheue en ’n filosofiese brein, is aangevul deur teologiese* onderskeidings­vermoë en sosiale bewustheid. Hy was voorsitter van die Werker-opvoedkundige Vereniging (1903) en aksiekomiteelid teen werkloosheid (1938), redakteur van The Pilgrim (tydskrif vir Christelike politiek), en voorsitter van ’n reeks internasionale konfe­ren­sies. Sy lang lys publikasies vanaf 1915 is eers beëindig met sy onverwagse dood in 1944.

Temple het ’n nasionale evangelisasie*-veldtog georganiseer (1916), asook ’n konfe­rensie vir sosiale geregtigheid (Birmingham, 1924). Hy het twee reekse boeke uitgegee, oor die Johannes-Evangelie en ’n bundel preke oor vier jaar in St James’, Piccadilly. As voorsitter van die tweede Faith and Order-konferensie in Edinburgh (1937), was hy instrumenteel in die stigting van die Wêreldraad van Kerke* (1938).

Vir verdere lees: LDT Poot 1961. “Temple, William”, in: FW Grosheide en GP van Itterzon (red) Christelijke Encyclopedie. Kampen: Kok. PS Dawes 1974. “Temple, William”, in: JD Douglas (red), The New International Dictionary of the Christian Church. Exeter: Paternoster.

Sidebar