TENNENT, GILBERT

TENNENT, GILBERT (1703–1764) kry sy teologiese opleiding by sy pa, William. In die “Log College”, die nederige voorloper van Princeton, lei William ook sy drie jonger seuns en ’n vyftiental ander jongmans op vir die bediening in die Presbite­riaanse Kerk*. In 1726 word Tennent beroep na New Brunswick. Daar word die evangelies-Calvinistiese* tradisie van sy ouerhuis versterk deur sy kontak met Theo­dorus Frelinghuysen, wat met buitengewone seën onder Nederlandse setlaars werk. Tennent se bediening word gekenmerk deur merkwaardige geestelike op­wekkings. In 1740 besoek hy Boston, waar hy vir drie maande byna elke dag preek. In 1743 neem hy ’n beroep aan na Phila­delphia, waar hy tot sy dood arbei, geliefd deur “rich and poor, black and white”. Volgens George Whitefield* was sy Skrif­tuurlike en sielsdeursoekende preke die beste wat hy ooit gehoor het.

Die bedienings van Frelinghuysen, Jonathan Edwards, Tennent en ander oud-studente van die “Log College”, was voorbereidend tot die “Great Awakening” in Amerika. Soos Whitefield, het hulle klem gelê op die mens se sondige aard, die algenoegsaamheid van die versoeningswerk van Christus*, die wedergeboorte* as wonder van God se genade*, en die noodsaaklikheid dat elke Christen die getuienis van die Heilige Gees* ten opsigte van die aanneming tot kinders sal ondervind.

As gevolg van Tennent se skerp ver­oordeling van predikante* wat die opwek­kings teengestaan het, het die sinode* die reg tot legitimasie*, wat in die Presbite­riaanse Kerke aan die ringe (“presbyteries”) behoort, beperk. Dit het beteken dat ringe wat sterk evangelies-Calvinisties was, nie meer hulle geesgenote kon legitimeer nie, en dit het gelei tot ’n skeuring in die kerk. Genadiglik het Tennent later besef dat hyself ook ernstig gefouteer het. Die publikasie van sy The Pacificator het uiteindelik daartoe gelei dat die breuk geheel is.

Vir verdere lees: A Alexander 1968. The Log College. Londen: Banner of Truth Trust. A Dallimore 1970. George Whitefield – The Life and Times of the Great Evangelist of the 18th century revival. Londen: Banner of Truth Trust.

Sidebar