TEODISEE

TEODISEE. Daar is talle “waarom”-vrae oor God se voorsienigheid wat dit vir gelowiges moeilik maak. Enige poging in dié verband om God te “regverdig” vir wat Hy doen of nalaat, staan as ’n teodisee be­kend. Verskeie oplossings vir die probleem is deur die loop van die geskiedenis aan die hand gedoen, bv dat daar naas en teenoor die ewige goeie God ook ’n ewige bose Mag bestaan, wat as teenstander van God vir al die kwaad verant­woordelik is; of, dat die goeie en die slegte noodsaaklik in ’n ewige verhouding van harmonie tot mekaar staan: die een kan nie sonder die ander nie; of, die kwaad en wat daarmee saamhang soos lyding, siekte, dood, is iets wat tog binne die voorsienigheid van God ’n bepaalde doel het: ’n teleologiese teodisee.

Hierdie en ander pogings om God se voorsienigheid te regverdig, bied geen teologiese oplossing vir die probleem nie. Daar kan ook nie langs hierdie weg ’n ver­klaring wees nie, want die uitgangspunt is reeds verkeerd. Dit is wesenlik onmoontlik om tot ’n regverdiging van God te kom uit waarneming van dinge in ons werklikheid.

Daar bly maar een begaanbare weg: om aan die waarom van hierdie werklikheid verby te gaan en te luister na die daarom van die openbaring. Uiteindelik is die grootste vraag nie na die rede vir die kwaad nie, maar waarom God se genade so groot is. (Kyk ook: Lyding.)

Sidebar