TEODORUS VAN MOPSUESTIA

TEODORUS VAN MOPSUESTIA (circa 350–428) studeer eers in Antiogië voordat hy, saam met sy vriend, Johannes Chrusos­tomos*, tot ’n klooster* in dieselfde stad toetree, waar hy 10 jaar bly. In 392 word hy biskop* van Mopsuestia waar hy die res van sy lewe bly. Teodorus is onregverdiglik deur Kurillos van Aleksandrië van kettery* beskuldig in ’n magstryd tussen die Alek­san­drynse en Antiogeense skole. Teodorus is 125 jaar ná sy dood, by die Tweede Ekumeniese Sinode van Konstantinopel (553 nC), van Pelagianisme* beskuldig. Teodorus is derhalwe tot ketter verklaar. Eers in 1932 is hy in ere herstel nadat daar van sy werke in Siries gelees is.

Teodorus is bekend vir die eksegese* wat hy van Bybelse boeke gemaak het. Die enigste van sy werk wat in die oorspronklike Grieks* in sy geheel behoue gebly het, is sy Kommentaar op die twaalf kleiner profete. As verteenwoordiger van die Antio­geense skool, het hy hom by ’n letterlike lees van die Bybelteks gehou, teenoor die Aleksandryne wat die Bybel allegories* gelees het.

Teodorus het geleer dat Christus* ’n menslike siel* gehad het, en dat Hy ’n vrye, morele keuse gehad het om ons te verlos. Teodorus was ook nie ywerig om die idee van erfsonde* aan te hang nie. Dis hiervoor wat hy later van kettery beskuldig is.

 

Sidebar