TEOLOGIE, GEREFORMEERDE

TEOLOGIE, GEREFORMEERDE. Teo­lo­gie kan gesien word as die wetenskaplike nadenke en besinning oor die Woord* van God, en dus oor die God van die Woord.

Enkele van die belangrikste kenmerke van (veral) die gereformeerde teologie is die volgende:

  1. Gereformeerde teologie is teosentries (trinitaries). Die Godsleer staan sentraal. Gereformeerde teologie handel oor God die Vader* en ons skepping*, God die Seun* en ons verlossing, God die Heilige Gees* en ons heiligmaking (heiliging*). Uiteraard word hiermee saam ook gehandel oor die wêreld, die mens, die kerk*, die voleinding*, oor skepping en herskepping. Calvyn* se Institusie (1559) en H Bavinck* se Gereformeerde Dogmatiek (1906–1911) is twee voorbeelde van klassieke gereformeerde teologie.
  2. Gereformeerde teologie is Skriftuurlik. Die Skrif* is die bron en norm vir die teologie (sola Scriptura). Onder “Skrif” word béide testamente verstaan. Die aanvaarding van die gesagvolheid van die Skrif vra om ’n juiste interpretasie daarvan wat weer vra vir ’n verantwoordelike hermeneutiek*. Die gereformeerde teologie probeer hier sowel die gevaar van fundamentalisme* as dié van kritisisme vermy.
  3. Gereformeerde teologie is kerklike teologie. Die teoloog funksioneer binne die kerk* en ter wille van die kerk (en koninkryk). Daar is wel ’n bepaalde distansie tussen kerk en teologie, maar nooit só dat die teoloog volkome losstaan van die kerk (en die kerklike belydenis*) nie. Teologie moet bevrugtend inwerk op kerklike aktiwiteite soos liturgie*, prediking*, pastoraat*, kategese*, diakonaat*, sending*, konfessie-(belydenis-)vorming en profetiese roeping.
  4. Gereformeerde teologie is konfessioneel. Dit impliseer nie dat die teoloog die gereformeerde belydenisskrifte gelyk­stel aan die Skrif nie, maar wel dat die konfessie die breë verwysingsraamwerk verskaf waarbinne teologie beoefen word. Die Skrif bly norma normans en die konfessie norma normata; die belydenisskrif staan dus altyd oop vir hersiening vanuit die Skrif. Sodoende word sowel die gevaar van konfessionalisme* vermy as dié van bibli­sisme*.
  5. Gereformeerde teologie is ekumenies (anti-sektaries). Dit neem krities kennis van ander teologieë, soek na waarheidsmomente daarin en is verheug oor elke vorm van konsensus in die teologie.
  6. Gereformeerde teologie is koninkryks­teologie. Die sentrale tema van sowel die Ou* as Nuwe* Testament is die koms van die koninkryk* van God; dit is die inhoud, die hart en die doel van die wêreldge­skie­denis. Dit is waar dat gereformeerde teologie ook as verbondsteologie* getipeer kan word, solank die temas van “koninkryk” en “verbond” nie antiteties nie, maar komplementerend hanteer word.
  7. Gereformeerde teologie is kontekstu­ele teologie – wat iets anders is as konteks­tualistiese teologie waar die konteks voorrang geniet bo die teks (die Bybel). Teologie word nie in ’n lugleegte nie, maar in ’n bepaalde konteks beoefen en selfs daardeur (ten goede of ten kwade) beïnvloed (vgl die apartheidsteologie* in Suid-Afrika). Dit alles impliseer dat bv die teologiese etiek* hom met allerlei indiwi­duele en sosiale vraagstukke sal besig hou.

Vir verdere lees: IJ Hesselink 1983. On Being Reformed: Distinctive Characteristics and Common Misunderstandings. Ann Arbor: Servant Books. WD Jonker en JA Heyns 1974. Op weg met die teologie. Pretoria: NGKB. S Maimela en A König 1998. Initiation into Theology: The Rich Variety of Theology and Hermeneutics. Pretoria: Van Schaik. JH van Wyk 2015. Teologie van die Koninkryk. Studies in Dogmatiek en Etiek. Potchefstoom: Vanwyk.

Sidebar