TEOLOGIE VAN DIE REWOLUSIE

TEOLOGIE VAN DIE REWOLUSIE is as begrip waarskynlik die eerste keer in 1964 in Praag tydens ’n Christelike konfe­rensie oor vrede* gebruik. Hierdie teologie* fokus op die betrokkenheid van Christene in die samelewing, spesifiek in die konteks van verset teen sosiale sisteme en strukture wat ongeregtigheid en verontmensliking in die hand werk. Dit lewer ’n pleidooi vir ’n, selfs gewelddadige, rewolusionêre transformering van die samelewing, en vir die skep van ’n sosiale orde van geregtigheid* en menswaardigheid. Belangrike kenmerke van hierdie teologie is die gesentreerdheid op die heil* van die mens en van die aardse werklikheid, die keuse vir ’n dinamiese in plaas van ’n statiese siening van God en die werklikheid, en die transformasie van die historiese werklikheid in die lig van die eskatologiese* heilsbeloftes. Richard Schaull en Harvey Cox is van die prominentste denkers in hierdie teologiese denkstroom. Die teologie van die rewolusie steun swaar op die analises van sosiale denkers, onder andere op Hegel* se dialektiese analises, Sartre* se eksistensiefilosofie, Marx* se materialistiese dialektiek en veral op neo-Marxistiese denkers soos Marcuse en Bloch. Daar is ooreenkomste in strewe en metodologie tussen die teologie van die rewolusie en ander teologieë soos politieke teologie en bevrydingsteologie*.

 

Sidebar