TEOLOGIE: VERSKIL TUSSEN “WESTERSE” TEOLOGIE, AFRIKA-TEOLOGIE EN SWART-TEOLOGIE

TEOLOGIE: VERSKIL TUSSEN “WESTERSE” TEOLOGIE, AFRIKA-TEOLOGIE EN SWART-TEOLOGIE. Volgens Desmond Tutu* is daar belangrike verskille tussen “Westerse” en Afrika- en Swart-teologie. Westerse teoloë, meen hy, soek antwoorde op vrae wat mense van Afrika* nie vra nie. Tutu, wat in die 1960’s in Engeland studeer het, wys daarop dat baie Westerlinge skaam is om oor God te praat. In sy boek, Honest to God, het John Robinson* bv probeer om op so ’n manier oor God te praat dat dit vir Westerlinge sin sou maak. Linguistiese teologie was in volle swang, studente het die grammatika van religieuse taal ondersoek en hulleself afgevra wat dit beteken om te sê: “God bestaan.” Vir Westerlinge is dit ’n geldige vraag, maar nie vir Afrika-mense nie. “Ons mense twyfel nie dat God bestaan nie en hulle weet baie goed wat met ‘God’ bedoel word. Hulle hoef ook nie daarvan oortuig te word dat God goed en almagtig is nie”, sê Tutu. Vir Afrika-Christene was die vraag eerder hoe om die vreemde, ingevoerde wyse waarop die Christelike geloof* na hulle gekom het, te vervang met ’n outentieke Afrika-manier om dié geloof te benader. In Suid-Afrika is swartmense nie geïnteresseerd in die standaardvraag waarom God swaarkry en ly­ding in die wêreld toelaat nie, maar eerder waarom hierdie swaarkry en lyding so spesifiek húlle deel is.

Om hierdie vrae te beantwoord, het Tutu twee teologiese gedagterigtings van die 1960’s bymekaar gebring: Afrika- en Swart-teologie. Afrika-teologie* het aandag gegee aan die bevryding van koloniale kulturele invloede in Christene se godsdiens in vrygeworde Afrika-gebiede. Swart-teologie* se oorsprong is by Afro-Amerikaanse teoloë en is veral ’n reaksie op rassisme* in die VSA. In albei teologieë is elemente wat vir die swartmense van Afrika van belang is, meen Tutu. Terwyl die Afrika-teologie mense wil help om hulle geloof te suiwer van vreemde kulturele invloede – en die indruk dat ’n mens eers regtig met God kan praat as jy Westerse klere aan het – wil Swart-teologie swartmense help om tot selftrots en selfwaardering te kom, hulle te laat verstaan dat swartheid ook ’n positiewe term kan wees. Dit stel swartmense in staat om hulleself te definieer in terme van wat hulle as goed en waardevol ag, en nie bloot in terme van wat deur Westerlinge aan hulle voorgesê word nie.

Vir verdere lees: John Allen 2006. Rabble-rouser for Peace. The Authorized Biography of Desmond Tutu. Houghton: Rider, Ran­dom House.

Sidebar