TEOLOGIE

TEOLOGIE is die wetenskap waarin alles wat God oor Sigself en oor sy verhouding met sy skepping geopenbaar het, bestudeer word. In die Christelike teologie mag dit egter nie gaan oor ’n algemene godheidsbegrip nie. Sonder geloof* in die lewende God wat in Jesus* Christus* geken word, kan daar geen sprake van egte teologie wees nie. Die bestaan van God is dus ’n geloofs­waarheid wat breedvoerig in die teologie aan die orde kom. ’n Tweede aanname wat noodsaaklik is vir die beoefening van die teologie, is dat kennis van God deur die Woord*van God kom. Vir hierdie twee aannames is die teoloog van ’n derde afhanklik: dat geloof tot stand kom deur die getui­enis van die Heilige Gees*. Nog vóór die teologie kom dus die belydenis. “Ek glo in God die Vader … en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun … en in die Heilige Gees.” Net soos alle ander wetenskappe, het die teologie ook ’n bepaalde terrein van studie of ondersoek, gaan hy volgens sekere metodes te werk, en kom hy tot bepaalde resultate. Die teologie se metode is ondersoek volgens bepaalde verantwoordbare reëls van uitleg en sistematisering, en sy resultaat is ’n beskrywing van die Godde­like waarheid in sy wye omvang. Daarom is teologie ’n wetenskap tussen die wetenskappe.

Sidebar